Subscribe by Email

Rugby-monduitspoelery oor rugby: Mag dit?

‘n Senior rubriekskrywer spoel vandag sy mond uit oor ondersteuners wat hul monde uitspoel oor hul spanne, die afrigters en die bestuur. So al asof hy vir ‘n junior kollega in die bres tree wat ‘n week of so tevore ook onder die kritici soos toeskouers, ingeseil het. Beide het die reg op kritiek erken, maar…

So asof ‘n mens die “papiere” moet hê om kritiek te kan lewer.

Die omgekeerde geld natuurlik ook. G*tkruip-verslaggewing bring niemand, en ook nie die span iewers nie. En jammer, daarvan het die land te veel begin kry.

En voor ‘n mens die kritici sommer bydam – wat van as daai kritici beter as die g*tkruipverslaggerwers gekwalifiseer is om menings uit te spreek?

Was die kritikus dalk nie op sy dag die redakteur van Cheetahnuus nie? Weliswaar toe heeltemal anders geskryf as nou, want toe was dit Kennedy Tsimba wat die Cheetahs prag-rugby laat speel het. Tsimba kon self gatskoonmaak deur ‘n gaping, terwyl sy aanvoeling om die bal vir ander spelers op vaart, en in ‘n gaping in besit te stel ‘n skaars instink en vaardigheid is. Die ander uitblinker met dié vermoë is Meyer Bosman, wat as losskakel in generaal De Waal se skadu moes staan, maar duidelik geblyk het as hy as plaasvervanger op die veld gekom het, en die agterlyn skielik laat blom het.

Wat as daai kritikus onder meer deur die Springbok, Eben Olivier afgerig is? As ander bekende Bokke daar op Coetzenburg kom handjie bysit het?

En sommer in die een jaar wat hy die geleentheid kry, sesde landswyd in sportskrywing kom – die beste in die Vrystaat daardie jaar?

Dit kos nogal ‘n volwassenheid as dié man sommer kort daarna nie akkreditasie kry nie, en jare later nog nie weer ‘n wedstryd op die Stadion gaan kyk het nie – maar steeds objektief, en ja, positief probeer bly en selfs weer ‘n slag sonder reaksie akkreditasie probeer kry het. Maar tot die verskoning kom, bly dit maar ‘n seer saak waaroor ‘n man nie graag praat nie.

Byvoorbeeld, dis goed en wel om te juis oor die Cheetahs se sukses te skryf, maar ja, soos die rubriekskrywer sê, ‘n mens moet na die konteks kyk. En wat is die konteks? Die wedstryde wat die Cheetahs so gewen het – waar lê hulle vanjaar op die punteleer? Die Highlanders het nog nie ‘n enkele wedstryd gewen nie. Die Waratahs en Force het nie veel beter gevaar nie. En moenie ‘n fout maak nie, hierdie spanne het vir tye die oorhand oor die Cheetahs gehad. En baie druk wat die Cheetahs kry, is aan hul eie toedoen te dankie, met die ou kwaal wat kort-kort kop uitsteek – besit wat met mamparraskoppe weggesool word. En wat in die verlede al tot trosse drieë teen die Cheetahs gelei het. Is ‘n mens dan “buite konteks” as ‘n mens kommer uitspreek oor hierdie pasella-aanvalsgeleenthede wat aan die opponente gebied word? En ja, sommer vroeg teen die Rebels was dit ook weer so – ‘n Francisskop waarby Rhule vingerpunte gekry het. Wat toe gelukkig ook deur die Rebels weggeskop is.

Voor die wedstryd teen die Reds was die Vrystaat se netto-punte nog minus 22 punte – na oorwinnings oor drie van die swakste spanne in die liga. Na die 34 – 16-oorwinning teen die Rebels, is die Cheetahs nog steeds 4 punte in die rooi. Slegs teen die Rebels kon die Cheetahs vier of meer drieë druk.

Na die Rebelwedstryd is dit steeds moeilik om die Cheetahs se werklike krag te meet.

Voorts vertel die “konteks” verskeie verhale soos ‘n voormalige afrigter, Nelie Smith, wat taamlik bitter weg is. ‘n Voormalige Springbokheelagter is duidelik onlekker oor iets en sy seun is sommer reguit weg Haaie toe. En dan die twee Griekwa-uittogte.

En ja, elkeen wat Ryno Opperman ken, verwag dat sake ook op daardie vlak beter sal verloop.

Bietjie wyer van die Stadion af is daar die mooiste aksie – Makwas vd Walt-hulle wat moeite doen om plattelandse talent te gaan raakdelf. Dat so iets nodig is, toon maar net weer dat Suid-Afrika dalk met vrug kan kyk na die Australiese model waar die bonde ‘n bo-perk het oor hoeveel hulle in totaal vir hul spelers kan betaal. In Australië is dit noodsaaklik om die ideaal van ons soort rugby landswyd te versprei, en in Suid-Afrika kan dit in ‘n mate keer dat bonde die kleiner bonde met die beursies knou.

Maar dit is nie (nou) ‘n Suid-Afrikaanse realiteit nie, en daarom is dit noodsaaklik dat nie ‘n enkele brokkie plaaslike talent verlore gaan nie. Daarom tog jammer dat die Cheetahsgroep amper onindringbaar lyk, en spelers wat die kluts kwyt raak nie maklik afgevoer word om op laer vlakke te gaan stoom opbou nie, en “nuwe” bloed gemotiveer bly om ‘n opwaartste skuif te kan maak nie.