Subscribe by Email

Rioolaanleg en deel van Apiesrivier tot rampgebied verklaar

AfriForum verwelkom die departement van waterwese se besluit om die Rooiwal-rioolaanleg en die Apiesrivier noord van die aanleg tot ʼn rampgebied te verklaar weens die groot hoeveelheid rou riool wat daagliks in dié rivier gestort word.

Die departement het dié besluit op ʼn onlangse vergadering geneem en daarop aangedring dat die Tshwane-metroraad dringende stappe neem om die probleem op te los, het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

“AfriForum bedank die departement van waterwese vir hul ingryping in hierdie saak. Dit is ʼn positiewe stap wat hoop bied vir die toekoms,” het Kleynhans gesê.

AfriForum het ook spesiale dank uitgespreek teenoor Jason Ngobeni, die nuwe munisipale bestuurder van die Tshwane-metroraad, vir sy samewerking in die goedkeuring van fondse en tenderprosesse by die Rooiwal-rioolaanleg. “Ons hoop dat die raad nou soortgelyke probleme in die toekoms sal vermy deur proaktief op te tree,” het Kleynhans bygevoeg.

AfriForum het sowat ʼn maand gelede in ʼn brief aan Ngobeni daarop aangedring dat die raad met ʼn aksieplan vorendag moet kom om die groeiende rioolkrisis by die aanleg te hanteer. In die brief het daar ook onder andere gestaan dat die betrokke gebied tot ʼn rampgebied verklaar moet word.

Volgens Kleynhans is die Rooiwal-rioolaanleg se probleme grootliks te wyte aan onbevoegde beplanning en bestuur. “Toenemende eiendomsontwikkeling en die gepaardgaande gebrek aan behoorlike beplanning en ontwikkeling van infrastruktuur is die grootste oorsaak van rioolstorting in die land se riviere. Nóg ʼn groot probleem is die traagheid van munisipaliteite om rioolaanlegte in stand te hou, deels weens die grootskaalse korrupsie wat in munisipaliteite voorkom,” volgens Kleynhans.

Sowat R11 miljoen kan nou, ná die departement se besluit, onmiddellik beskikbaar gestel word vir die instandhouding en opgradering van die Rooiwal-rioolaanleg. “Hierdie verbeteringe sal reeds ʼn groot impak hê op die gehalte van die water wat deur die aanleg vrygestel word,” het Kleynhans gesê.

AfriForum se ondersoekeenheid is tans besig om klagtes van boere in die omgewing te hanteer wat grootskaalse verliese gely het weens die rioolkrisis.

One Response to Rioolaanleg en deel van Apiesrivier tot rampgebied verklaar

  1. gert van der waal

    Junie 30, 2015 at 5:20 pm

    Die situasie is vandag baie erger, riool word openlik op landbou grond en dan na Apiesrievier uitgepomp!