Subscribe by Email

Ridders op galop

Na drie meerdagwedstryde wat uitgereën is, was dit te wagte dat die sentrale streek se Ridders in hul eerste eendagwedstryd van die nuwe reeks die pap teen die besoekende Krygers sou wou dik aanmaak.
Uiteindelik was die Ridders met 91 lopies baas.
Tog het tekens van die Ridders se groot probleem, onbestendigheid, tog weer kop uitgesteek. Die Ridders is eerste ingestuur om te kolf, en Ryan Bailey het net drie balle getrotseer voor hy vir ‘n nulletjie agter die paaltjies opgeraap is. Openingsmaat Hendricks het egter sy 52 lopies van net 43 balle gemoker, 40 daarvan teen die grenstou. Rossouw het ook ‘n 50-tal uit die Kimberleyse kolfblad gedelf, maar minder aggressief. Dean Elgar, wat as kaptein ingestaan het, het sy span se hoogste telling van 76 lopies van 71 balle aangeteken, en die bal ook ‘n slag anderkant die grenstou laat grondvat.
Hoewel Ryan McLaren nie heeltemal by sy vyftigtal uitgekom het nie, was sy 47 lopies ook vinniger as ‘n lopie per bal. Saam met nog flink kleiner bydraes van die laer orde het die tuisspan 325 vir 9 in hul 50 boulbeurte aangeteken.
En toe begin McLaren se dag eintlik, en hy trek 5 Krygerpaaltjies vir 38 lopies plat. Hy was ook die Ridders se suinigste bouler, en het met die 4 lopies per boulbeurt wat hy afgestaan het, die druk op die besoekers om die wilgerlat in te lê verhoog. Die vyf wydlopers van McLaren sal dié perfeksionis egter ‘n slapelose nag of twee besorg.
Benewens McLaren en Elgar wat hande opsteek vir die keurders om weer raakgesien te word, het die besoekers se Colin Ingram ook flink met die kolf vertoon, en sy span lank in die wedstryd gehou. Ingram sal waarskynlik ‘n rukkie met goeie vertonings aan die Proteadeur moet klop voor weer vir hom oopgemaak sal word. Met die vorige rondte was Ingram lank skitterend op stryk, en tog het dit gelyk of die keurders siende blind is. Toe Ingram die deur uiteindelik afskop, het hy skielik erg vorm verloor. Dié keer sal die keurders waarskynlik nog meer katvoet vir hom loop – en dit is baie jammer.