Subscribe by Email

RESEP:MADRAS-BEESVLEISKERRIE KRY VOLPUNTE VIR GEUR

madraskerrie1

JY benodig (vir vier tot ses mense):

  • 2sopies (50ml) kookolie
  • 1ui, fyngekap
  • 1t gemaalde kaneel
  • 2 kardamompeule
  • sopie (12,5ml) komynsaad (of anys, maar nie steranys nie)
  • sopie gemaalde koljander
  • sopie brandrissiepoeier
  • sopie paprika
  • 1t borrie
  • sopie garam masala
  • 1kg beesvleis (sonder die bene, in stukke gesny). Vir ’n luukser variasie gebruik kruisskyf (rump)
  • sopie sout
  • 1t swartpeper
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • vars gemmer (in volume gelyk aan die knoffel) gerasper
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1 blik klappermelk
  • sap van 1 suurlemoen
  • 1 bakkie vars koljanderblare

Laat waai!
1.Verhit die kookolie in ’n potjie op ’n middelslagvuur. Voeg die ui by en braai totdat dit sag is, maar nie bruin nie.
2.Nou kom die speserye by:
kaneel, kardemom, komyn,
koljander, brandrissie, paprika, borrie en garam masala.

Roer ’n minuut totdat dit onweerstaanbaar begin ruik. Nou gaan die neuse begin praat.

Jou bure gaan dalk bel om hulself vir ete te nooi. Bly gefokus en kyk na die bodem van die potjie wat dalk baie droog kan lyk. Gaan dadelik oor na die volgende stap.
3.Voeg die vleis, sout, peper, knoffel en gemmer by. Braai ’n paar minute totdat die vleis alkant begin bruin raak. Die beesvleis sal sap afskei. Gebruik dit om enige taai stukkies wat aan die bodem van die potjie klou, los te krap.

Indien jy sukkel, gooi ’n bietjie water by, maar dit sal waarskynlik nie nodig wees nie.

4.Voeg die tamaties, klappermelk en suurlemoensap by. Kry die mengsel baie liggies aan die prut, sit die deksel op en laat dit 90 minute verder gaar word oor ’n paar kole (nie vlamme nie) totdat die vleis sag is.

5.Sit voor op rys met ’n jogurt-en-komkommersous (bekend as raita) en vars koljanderblare.

Wenk
As jou pot klein is en jy kan nie al die vleis op een slag bruin braai nie, doen dit in sarsies voordat jy die ui braai.

Sit die gebraaide vleis eenkant en voeg dit weer in stap 3 by.
Jan Braai sê …
Eet eerder kleiner porsies vleis van ’n beter gehalte. As jy vleis kan bekostig en een van my boeke, gaan jy waarskynlik steeds nie honger ly nie.