Subscribe by Email

Rekordgetal joernaliste in aanhouding

“Suid-Afrika moet ‘n veel hoër premie op mediavryheid stel, en wetgewing soos die voorgenome snoerwet moes nooit uitgebroei gewees het nie,” sê ds Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP).

Botha het gereageer op die nuus oor hoeveel joernaliste nou wêreldwyd in aanhouding is. Volgens die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste (KBJ) is daar nou ‘n rekordaantal van 232 joernaliste wêreldwyd agter tralies. Turkye is die grootste sondaar, gevolg deur Iran en China.

“Terwyl Suid-Afrika neig om hierdie belangrike element van demokrasie en waghond teen korrupsie te snoer, sterf daar wêreldwyd joernaliste. Volgens die KBJ is daar vanjaar reeds 65 joernaliste in die uitvoering van hul werk dood. Dit beteken dat daar sedert 1992 reeds 960 joernaliste dood is. Volgens ‘n ander persvryheidswaghond, Verslaggewers Sonder Grense, is vanjaar se dodetal onder joernaliste selfs nog hoër, naamlik 78, met nog 47 internet- en burgerlike verslaggewers wat omgekom het.

“Hoeveel Suid-Afrika persvryheid nodig het, blyk daaruit dat die land in twee jaar 14 plekke op die korrupsipersepsie-indeks teruggesak het. Terselfdertyd daal die land op die persvryheidsindeks.

“Al minder bly oor van die 1994-ideale.”