Subscribe by Email

Reënwoud op Antarktika !

Vyftig miljoen jaar gelede, toe die Indiese subkontinent teen Eurasië gebots en die Himalajas begin vorm het, was daar ‘n reënwoud op Antarktika, aldus ‘n verslag van navorsers in Australië wat pas gepubliseer is. Dit was amper ‘n tropiese woud, blyk uit boorwerk wat hulle deur ‘n dik yslaag gedoen het.

Onafhanklike navorsing toon dat die aarde destyds inderdaad so warms was, dat oppervlakys bykans nie bestaan het nie.

Die ou Gondwana het sowat 130 miljoen jaar gelede begin opbreek, en uitmekaar begin dryf. Antarktika het egter min of meer oor die suidpool bly lê, en kontinentale drywing kon dus nie veel tot die warmer klimaat vir die woudvorming bydra nie. Net meer as 200 miljoen jaar gelede was Antarktika, toe as deel van Gondwana, egter op die trope geleë en het ‘n tropiese klimaat gehad. Die steenkoolvelde op die yskontinent, waarvan een slegs 500 kilometer van die Suidpool gevind is, dateer uit hierdie periode.

Die bevindings van die Australiërs is nie heeltemal onverwags nie. Sowat twee jaar gelede is dit reeds voorspel toe skilpadbene wat sowat 45 miljoen jaar oud is op Seymore-eiland naby Antarktika gevind is. Die byna tropiese klimaat is beskryf as die Eocene Epog wat van 56 tot 34 miljoen jaar gelede geduur het. Hoewel die ander kontinente van Gondwana toe reeds weggebreek het, was Antarktika, Australië en Nieu-Guineë toe nog verbind, wat koue seestrome weggekeer het.

Foto: Steenkool in Antarktika

Herman Toerien