Subscribe by Email

Red kontrareformasie ‘n kerk?

Van 7 tot 28 Oktober kom die Rooms-Katolieke Biskoppe uit Westerse lande vir ‘n sinode in Rome byeen. Hul doel is om nuwe riglyne op te stel vir die evangelisasie van die Weste. Na afloop van dié sinode sal die pous ‘n brief aan kerkvaders opstel, en die besluite in pouslike bulle giet.

Die doel is om die “goddelose Weste weer tot God te keer.”

Die man aan die stuur van hierdie projek is kardinaal Salvatore Rino Fisichella wat reeds op 30 Junie 2010 as president van die Pouslike Raad vir die Bevordering van die Nuwe Evangelisasie aangestel is.

Fisichella self noem dit ’n kontrareformasie – teenhervorming. Meer as net ’n groter Westerse afvalligheid van God is nou onderliggend aan die aksie – skandale wat die Katolieke Kerk getref het soos kindermolestering, het die kerk se beeld geskaad. Om evangelisasie behoorlik te kan doen, moet die beeld van die kerk ook verbeter word.

Die term, teenhervorming, het aanvanklik gedui op interne hervormings in die Katolieke Kerk, en word gewoonlik beskou as ’n reaksie op die hervorming wat deur Maartin Luther ingelui is, toe hy in 1517 sy 95 stellings op die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het.

Toe het die Katolieke Kerk beswaar gemaak teen die gebruik van die term teenhervorming, en aangevoer dit is interne hervorming.

Die teenhervorming word geassosieer met die Konsilie van Trente het met talle onderbrekings, van 1445 tot 1563, in 25 sessies versprei oor drie periodes in Trente, Italië, byeengekom. Die besluite van Trente is uiteindelik met ’n pouslike bul, Benedictus Deus, in 1564 deur Pius IV en die uitreiking van die Kategismus van die Konsilie van Trente in 1566 bekragtig.

Die proses het dus begin voor Luther, maar Luther was ook nie die eerste “Protestant“ nie. In 1410 het iets plaasgevind wat die opkoms van Protestantisme met ongeveer ‘n eeu vertraag. Dié jaar misluk die appèl van die Boheemse kerkleier, Johannes Hus, teen ‘n pouslike bul dat alle werke van die Engelsman, John Wycliff, verbied en verbrand moes word. Hierdeur is kerklike hervorming binne die kerk in effek nek omgedraai.

Eers na-aan die einde van die proses in Trente het die opvolgende pouse hulle aan die kant van die hervormingsgesindes geskaar, en kom vordering gemaak word. Dit het tot ‘n geestelike oplewing in die Katolieke Kerk gelei. Dit is klaarblyklik dié oplewing wat Fisichella die term, kontrareformasie, laat gebruik.

Die huidige kontrareformasie staan egter ook nie in isolasie nie. ‘n Koor van Katolieke vernuwing by die Tweede Vatikaanse Konsilie van 1962-’65 opgeklink, is berig. Veral twee stemme het opgeklink – die een was Joseph Ratzinger, later kardinaal en waghond oor Katolieke dogma, en uiteindelik pous Benedictus XVI. Die ander, wat krities bly staan het, en veral die dogma van die onfeilbaarheid van die pous aanval, is Hans Küng, gevierde emeritus professor in ekumeniese teologie en ’n man wat deur sommige bestempel word as een van die tien invloedrykste teoloë van die vorige eeu.

Wat kan van die nuwe kontrareformasie verwag word?

Daar sal besluite geneem moet word wat die Katolieke Kerk se geloofwaardigheid herstel. Daar sal egter ook, volgens, Fisichella, erkenning wees vir die volgehoue onbaatsugtige selfopoffering van tallose susters, priesters en jong mense oral ter wêreld.

Uit die gesprek met die Vlaamse weekblad, Knack, is daar geen aanduiding dat stemme dat priesters hulle ook nou in die huwelik sal mag begewe, of ander standpunte oor kwessies soos voorbehoeding, en nog minder aborsie en genadedood, enigsins op die agenda is nie.

Die proses wat nou (weer) in die Rooms-Katolieke Kerk aan die gang gesit is, herinner in vele opsigte aan sake wat in die Afrikaanse susterkerke posgevat het. In die jongste uitgawe van Die Hervormer blyk die stryd tussen reformasie in die konteks van Ecclesia reformans semper reformanda. Dit beteken dat die kerk van die Hervorming altyd wil reformeer. Aan die ander kant wat ten beste as ortodoks-gereformeerd beskryf kan word, wat tussen die susterskerke en ander kerkverbande ‘n sterk element van fundamentalisme dra.

Terme soos onverdraagsaamheid, veroordeling (en erger), liefdeloosheid, vernuwende denke, alternatiewe spiritualiteit, modernisme en post-modernisme en vele meer word veral met internetdiskoerse mildelik ingespan, ooglopend sonder dat baie van die deelnemers weet wat die terme beteken.

Hoewel baie van die vernuwende denke na groeiende individualisme teruggevoer kan word, is die groepsinvloed na al die kante duidelik. Daar is min werklike nuwe denke, en baie is min of meer die klakkelose navolging van die een of ander outeur wat ook ruim aangehaal word – terwyl die enersdenkendes onderling groepeer en selfs name kry.

Die eerste kontrareformasie van die Rooms-Katolieke Kerk het wel tot geestelike oplewing in die kerk gelei. Of die voorgestelde nuwe dit in die Weste sal bewerkstellig (in Latyns-Amerika, Afrika en elders vind dit skynbaar sonder so ‘n reformasie plaas) sal nog beoordeel moet word.

Binne die susterkerke is daar egter ‘n bykomende kwessie: Wie is nou eintlik met die kontrareformasie besig? Diegene wat elemente van vernuwing dra? Of juis hulle wat daardie vernuwing wil omkeer? Beide groepe maak daarop aanspraak dat hulle die ware definisie van reformasie koester. Beide groepe maak daarop aanspraak dat hulle daarop ingestel is om die Here se wil te laat geskied, en nie ‘n godsbelewenis wil afdwing waarin hulle self gemaklik is nie.

Herman Toerien

One Response to Red kontrareformasie ‘n kerk?

  1. Pieter Albertyn

    November 27, 2014 at 7:17 am

    ‘n Skitterende artikel, Herman! Ek dink dis die vlak waarop hierdie gesprek gevoer moet word en die vrae wat gevra word is uiters relevant. Dit het my regtig aan die dink gesit- sal dalk later meer relevante insette probeer lewer.