Subscribe by Email

Reaksie op Malema-skorsing

TLU SA is enersyds verheug oor die uitkoms van die ANC se dissiplinêre aksie teen sy jeugleier Julius Malema. “Ons bly egter hoopvol om te sien of die ANC bereid sal wees om selfs verder te gaan en homself van ander omstrede Malema-uitlatings te distansieer,” sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes. “Aan die ander kant is ons ontevrede oor die feit dat Malema onskuldig bevind is op klagtes van rassisme, terwyl nie minder nie as drie hofuitsprake in wese Malema van rassisme beskuldig het, en waar die Gelykheidshof selfs sy liedjie “Skiet die Boer” tot haatspraak verklaar het, wat die uiterste vorm van rassisme is. Die ANC het nou ’n goue geleentheid om ’n skoon breuk met die Malema-era te maak deur van die geleentheid gebruik te maak om die appél teen die Gelykheidshof-uitspraak terug te trek, en om homself te distansieer van die Malema-uitsprake van nasionalisering, wat nie net die ANC nie, maar die hele land, geweldige skade berokken het,” sê mnr. Meintjes.
“Die Christen-Demokratiese Party (CDP) verwelkom die effektiewe skorsing van Julius Malema uit die ANC en as president van die Jeugliga, en hoewel ons besef dat hy nog appèl kan aanteken, is ons verlig dat die moontlikheid bestaan dat die land nou vyf jaar lank sonder sy skadelike ‘wyshede’ kan klaarkom. Die skade wat Malema aan die land in terme van polarisasie en beleggersvertroue aangerig het, is onmeetbaar,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP.
“Ons is tog bekommerd daaroor dat die A NC in sy bevindings groter kommer aan die dag lê oor verdeeldheid wat die ANC binne die ANC skep, en probleme wat hy vir die land se betrekkinge met buurlande skep, as wat die ANC bekommerd is oor die skade wat hy met uitsprake oor grondgryp en ander duidelike polariserende uitsprake oor ander bevolkingsgroepe maak. “Ons verwerp dus die dissiplinêre komitee se bevinding van ‘onskuldig’ oor Malema en rassisme en die aanspraak dat dit ook die ANC se beleid van sogenaamde nie-rassigheid probeer beskerm het.”
Suid-Afrika is vandag ‘n beter plek as wat dit gister was omdat die ANC se dissiplinêre komitee uiteindelik die moed gehad het om teen Julius Malema op te tree en hom van die politieke terrein verwyder het.
Malema en Shivambu het sonder twyfel Suid-Afrika baie skade in die buiteland en binne die land berokken. Met sy uitlatings oor nasionalisering het hy beleggers in die buiteland afgeskrik terwyl sy rassesienings verhoudinge verder binne Suid-Afrika vertroebel het.
Met hulle optrede het die komitee Malema vir vyf jaar in die politieke yskas gesit. In die praktyk beteken dit dat hy na hierdie tydperk te oud sal wees om verder enige rol in ANC-jeugpolitiek te speel en sy merk in die groter politieke dam sal moet maak.
Wat totaal onaanvaarbaar van die ANC-dissiplinêre komitee se bevinding is, is dat Malema skuldig bevind is op die stellings wat hy oor Botswana gemaak het, maar onskuldig bevind is op sy rassestellings teen wittes. Hiermee het die komitee die geleentheid gemis om ‘n sterk boodskap oor hoe goeie verhoudinge in Suid-Afrika bereik behoort te word, te stuur.
Vandag se besluit gaan ’n regstreekse invloed hê op ANC-politiek in die aanloop tot die ANC se kongres in Desember. Die vraag is tot watter mate die ANC-leierskap rondom die dissiplinêre komitee se besluit gaan verenig en of die besluit juis gaan bydra tot verdere verdeeldheid binne die ANC soos die verskillende faksies kant kies vir of teen Malema.