Subscribe by Email

Rafael Nadal word uitgeskakel uit die Amerikaanse Ope

raffaDie wêreld se nommer 25-speler Lucas Pouille van Frankryk het vir ‘n opskudding gesorg toe hy die tweemalige Amerikaanse Ope-kampioen Rafael Nadal met 6-1, 2-6, 6-4, 3-6 en 7-6 geklop  het en deurgedring het na die kwarteindrondte. Dit was die grootste oorwinning van Pouille se loopbaan. Vir Nadal was dit die eerste jaar van 2004 af wat hy nie kon deurdring na die kwarteindstryd van ‘n Grand Slam-toernooi nie. Die wêreld se beste speler, Novak Djokovic, het Brittanje se Kyle Edmund met 6-2, 6-1 en 6-4 geklop. Ander spelers wat na die kwarteindrondte deurgedring het is Jo-Wilfried Tsonga en Gael Monfils van Frankryk.

In die vroue-afdeling het die Duitse tweede gekeurde Angelique Kerber die tweemalige Wimbledon-kampioen Petra Kvitova van die Tsjeggiese Republiek met 6-3 en 7-5 geklop in haar poging om die wêreld se beste speler te word. Verlede jaar se finalis by die Amerikaanse Ope, Roberta Vinci van Italië, het in skoon stelle afgereken met Lesia Tsurenko van die Oekraïene, terwyl die voormalige wêreld nommer een, Caroline Wozniacki van Denemarke, met 6-3 en 6-4 klaargespeel het met Amerika se agtste gekeurde Madison Keys.