Subscribe by Email

Psige van die skieter

Die menseslagting in Noorweë waarvoor ‘n jong man verantwoordelikheid aanvaar het, laat opnuut die vraag: “Wat het so iemand besiel?”

Die onlangse voorval in die VSA toe Jared Lee Loughner die Amerikaanse politikus Gabrielle Giffords in die kop gewond, en nog vier mense, waaronder ‘n nege-jarige dogterjie doodgeskiet het, bied dalk meer antwoorde as die gepolariseerde, heterogene Suid-Afrikaanse konteks van die aanval op die Magoo’s-dameskroeg, die Wit Wolf en ander.

Van die geestestoestande wat aan Loughner toegeskryf word, ontwikkel dikwels vanaf die ouderdom van omtrent twintig. Dit sluit ‘n groot aantal psigoses in, waaronder skisofrenie. In die geval van Loughner is dit skynbaar in die hand gewerk deur middels te gebruik wat sulke toestande kan sneller.

In die geval van Anders Breivik wat erken het dat hy vir die Noorweegse slagting verantwoordelik was, is ‘n groot hoeveel inligting oornag opgediep.

Soos Loughner het hy met die politiek behep geraak. Waar Loughner se oortuigings deur sommiges na die betreklik fundamentalistiese Tea Party-beweging herlei is, is daarop gewys dat Breivik, na hy aanvanklik lid was van die konserwatiewe Progress Party maar bedank het en sy bewondering vir die Nederlandse party, die PVV van Geert Wilders uitgespreek het.

Wilders was egter een van die eerste politici wat die voorval veroordeel het.

Die Noorweegse polisie het Breivik dadelik as ‘n Christen-fundamentalis beskryf. Uit die beskikbare inligting word dié siening egter nie gestaaf nie – bloot dat hy hom sterk teen die Islam uitspreek, ‘n politiek-vuurwarm onderwerp in Noorweë en in die meeste Wes-Europese lande.

Hy noem homself ‘n konserwatiewe Christen, maar die sake waaroor hy in dié verband sy mond uitspoel, naamlik ‘n afkeer in sosialisme, internasionalisme en multi-kulturele samelewings kan nie na die klassieke Christelike fundamentalisme gevoer word nie.

Wat is die kanse dat so iets in Suid-Afrika kan gebeur?

Onlangs het ‘n groep, waaronder Breyten Breytenbach na aanleiding van die voorval waar prof. Anton van Niekerk ‘n gebreekte bril en blouoog opgedoen het, gevra dat uiteenlopendes debat moet voer. Hulle vra ook dat die media nie sienings selektief moet weergee sodat frustrasie opbou onder hulle wat andersdenkend is maar verswyg word nie.

Iets wat Suid-Afrika met die VSA deel, en wat as belangrike voedingsbron vir Loughner se optrede beskryf is, is die voorkoms van vitrioel in veral die kommentare op artikels en briewe op die internet. Die woordeboek beskryf woorde-vitrioel as skerp, bitsig en venynig. Skuilname bied aan dié mense die geleentheid om lakens uit te deel terwyl hulself nie onder skoot kan kom nie. Dit bied uiteraard ‘n ideale teelaarde vir ongebalanseerde mense. Dit handel oor godsdiens, politiek wetenskap, kultuur, taalgebruik – haas enigiets. Ontkenners is volop hier – van evolusie tot die oorsaak van Vigs tot oor klimaatsverandering, die toename in die voorkoms van outisme en selfs of die Amerikaners al op die maan was.

Die ironie is dat dit dikwels juis mense is wat hoog opgee oor hul eie Christenskap, wat op die voorpunt van onverdraagsaamheid en veroordeling is, heeltemal gestroop van fatsoenlikheid en ordentlikheid..

Terwyl een gekoester agter ‘n skuilnaam gewoon sadistiese genoegdoening daaruit put deur ‘n ander sleg te sê, sal ‘n ander waar die skroef nog losser is moontlik regverdiging put om iets onverantwoordeliks te doen. Dit is veral as godsdiens skeefgetrek word om sekere soorte optredes nie net te regverdig nie, maar as Goddelike opdrag of inspirasie ervaar word, dat sake lelik kan skeeftrek. En meng dit met gepolariseerde politiek, soos waar Julius Malema uitsprake maak en liedjies sing wat die bloed laat kook, kry ons ‘n situasie waar iemand iewers kan knak.

As so iets in die VSA gebeur, is dit gegewe die omstandighede nie werklik ‘n skok vir die wêreld nie, hoewel die gevolge skokkend is. Wanneer dit in Noorweë gebeur, sit die wêreld regop. Geen land, ook nie Suid-Afrika nie, is heeltemal gevrywaar nie.

Herman Toerien