Subscribe by Email

Proteas teen Black Caps

Nou is dit maak-of-breekfase van die wêreldbeker-kriekettoernooi wat op die Indiese Subkontinent afspeel. Vrydag is dit die Proteas teen Nieu-Seeland se Black Caps wat in die een kwarteindstryd gaan kopskerms stamp. Die wedstryd vind in Mirpur in Bangladesj plaas.
Dat die Proteas op papier die gunstelinge is, beteken in ‘n uitklopfase niks. Die telbord aan die einde van die dag se spel is al wat dan saak maak.
Hoewel die Proteas by tye indrukwekkend was, is daar steeds ‘n paar haakplekke.
Hieronder tel die feit dat kaptein Smith nog nie juis in die toernooi in ‘n lopievraat ontpop het nie, en wanneer hy lopies gekry het, is die kragspel-fases waartydens hy die kolf swaai, nie behoorlik benut nie. Ook Jaques Kalis wat nou lopies begin kry het, plaas druk op die laer orde om haastig lopies te moker, wat gelukkig nog gebeur het – behalwe in die wedstryd toe Engeland bo was na ‘n krap-en-karring-kragmeting op ‘n bykans onspeelbare veld.
Sal die lae orde kolwers elke keer die wa so deur die drif kan sleep?
Morné van Wyk het getoon hy kan as mokerman voorlangs die telbord ‘n stewige hupstoot gee, maar sal hy speel as AB de Villiers behoorlik fiks is? Die jongste aanduidings is dat AB Vrydag ‘n fiksheidstoets sal slaag vir die besering wat hy onlangs opgedoen het, maar niks is nog oor sy stywe rug bekend wat Morné die kans gegee het om agter die paaltjies diens te doen nie.
Is Morné steeds agter die paaltjies, kan weer daaraan gedink word om hom op nommer drie, of selfs as aanvangskolwer, in te stuur.
As die toernooi een les ingehou het, is dat ‘n vinnige honderdtal deur een speler die wedstryd baie taai vir die opponente kan maak. Brendon McCullum en Ros Taylor word vir Vrydag as die vernaamste bedreigings beskou – en Taylor het dit in hierdie toernooi al reggekry ook. Die Suid-Afrikaners kan nie by voorbaat aanvaar hulle sal die luukse hê om voorlangs te poer-poer nie.
Speel Morné, het die keurders weer die keuse van wie om weg te laat. Imram Tahir en Dale Steyn lyk of hulle Vrydagoggend se fiksheidstoets gaan slaag. Tahir verdien nie om sy plek te verloor nie, maar Johan Botha het met die bal en kolf waardevol geblyk te wees. Om een van die senior spelers blaaskans te gee sal ook nie vir die keurders ‘n opsie wees nie.
En dan is daar nog die kolfblad vir die dag, wie die loot wen, en of die reën gaan pla.
Maar dis krieket.
Intussen sal hierdie toernooi by uitstek bekend staan as die toernooi waar die kleintjies (soms” stem dik gemaak het. Benewens Engeland wat by die Iere en Bangladesj aapstert gekry het, het die Nederlanders ook veel beter vertoon as die plek wat hulle op die ligabord behaal het. Dit is net ‘n kwessie van tyd voor ‘n grote in die liga-gedeelte uitgeskakel word.