Subscribe by Email

Proteas nie verseker van toetssege

Die Proteas wat die heersende nommer een toetsspan, Engeland, in die eerste toets met meer as ‘n beurt verneder het, het ‘n bedroewende rekord in opvolgtoetse. En Engeland weet dit. Die tweede toets begin môre op Headingley.

In die 2009/10 seisoen, het die Proteas Indië in ‘n wegtoets in die eerste beurt met meer as ‘n beurt teen Indië gewen, net om in die tweede toets die kous oor die kop te kry. Met die Indiërs se besoek aan Suid-Afrika in die 2010/11-toetsreeks het presies dieselfde gebeur. ‘n Jaar later het dit weer teen Sri Lanka gebeur.

Verloor die bleekbene dié toets, word die Proteas die top-toetssspan in hul plek..

Vir die Engelse is dit egter eerstens ‘n geval om die vernedering van die eerste toets uit die weg te ruim. Dit lyk of die span een verandering sal ondergaan van die span wat in die eerste toets net twee Proteapaaltjies kon inoes, met Steve Finn wat as snelbouler speelkans behoort te kry. Finn is lank, en kan op Headingley ‘n handvol wees.

Ongelukkig vir die Proteas beteken die afloop van die vorige toets niks wanneer die tweede toets begin nie. Net vier Proteas het in die eerste toets kolfkans gekry. In elkeen van die drie kolfbeurte van die toets het een van die aanvangskolwers ‘n nulletjie gekry, waarna die ander aanvangskolwer in twee van die beurte honderdtalle aangeteken het. Op Headingley sal dit waarskynlik nog moeiliker wees om die nuwe bal af te weer as op die Oval se verebed.

Dit is dus heel moontlik dat die middelordekolwers vir die eerste keer op die toer aan die Engelse toetsboulaanval blootgestel gaan word. En dié kolwers het in oefenwedstryde sedert die eerste toets glad nie oortuig nie.

Met die uittrede van die veteraan-paaltjiewagter, Mark Boucher, het die Proteas nou ‘n langer kolflys … mits JP Duminy kolfvorm bereik.

Bloot volgens die wet van gemiddeldes is dit onwaarskynlik dat sake weer so reg sal verloop vir die Proteas, en alles so verkeerd sal verloop vir die Engelse. Maar dit kan ook wees dat Headingley se verwagte lewendiger kolfblad die Suid-Afrikaanse boulaanval in staat sal stel om selfs nog meer vernietigend verwoesting te saai.

As die Proteas se kolwers dan net nie euforie met selfvertroue gaan verwar nie…