Subscribe by Email

Profete voorspel dodelike aardbewings vir Rome en Taiwan – maar Spanje loop deur

Spanje aardbewing

Spanje aardbewing

Dié week het baie lugtige inwoners van Rome na die buitewyke uitgewyk – spesifiek die dag waarop ‘n profeet jare gelede voorspel het ‘n dodelike aardbewing sou dié stad tref. Dié “profeet” is al tien jaar gelede oorlede, en hoewel seismoloë die versekering gegee het dat daar niks buitengewoon te wagte is nie, wou sommige inwoners maar liefs bang Tino, as dooie Tino wees.
Ook in Taiwan het ‘n “profeet” se voorspelde datum van ‘n dodelike aardbewing gekom en gegaan. Die man bly steeds in sy plakkershuisie wat hy meen nie dodelike gevolge sal inhou wanneer die aardbewing – volgens hom 14 op die Richterskaal, dié eiland sou tref nie. Hy glo nou hy mag dalk ‘n dag of wat uit wees.
Die dodelike aardbewing wat wél in die voorspelde tydperk voorgekom het, het die Suid-ooste van Spanje getref en tien lewens geëis. Dit was maar ‘n baie ligte aardbewing, vergeleke met die grotes wat voorkom, en het maar 5,3 op die Richterskaal gemeet. (Op die USGC se webwerf word dit as 5,1 aangegee, ‘n sterkte wat selde die lys haal, maar dié keer wel waarskynlik weens die lewensverlies). Dit is ongeveer ‘n honderd keer ligter as die Tulbach-aardbewing.
Heelwat skade is met die aardbewing in Spanje aangerig, veral in die ou stede Lorca, Cartagena en Albacete. ‘n Ou kloktoring het ingestort en het ‘n TV-verslaggewer wat besig was om ‘n onderhoud te voer, met ‘n haarbreedte gemis.
‘n Terloopse interessantheid is dat argeoloë onlangs, vir die tweede keer daarop aanspraak gemaak het dat hulle Atlantis aan suidelike kus van Spanje ontdek het. In die jongste aanspraak is die “bouvalle” (onder die oppervlak in ‘n vleigebied) sestig kilometer van die kus, en hulle verklaar dit aan die hand van ‘n reuse tsunami wat op ‘n reuse aardbewing gevolg het. Hulle wys daarop dat ‘n aardbewing waarskynlik net so sterk soos die onlangse wat soveel dood en verwoesting in Japan veroorsaak het, op 1 Nov 1775 ‘n tsunami tot gevolg gehad het wat Lissabon feitlik verwoes het. Volgens hulle sou ‘n beter gerigte tsunami wel die gebied kon tref waar “Atlantis” nou ontdek is.
Na die groot Japannese aardbewing het ‘n paar grotes reeds voorgekom, bv die een van 7,1 wat Honshu getref het, een van 6,8 wat heelwat dood en verwoesting in Mjanmar veroorsaak het, en van onderskeidelik 6,9 en 6,8 wat Solomon-eilande en die Lojaliteitseilande getref het. – Herman Toerien