Subscribe by Email

Prioretiseer watergebruik

Boere is hoogs ontsteld oor die Minister van Waterwese, Edna Molewa, se stelling dat landbou te veel water opeis.

TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, sê dat landbou water nodig het om voedsel op volhoubare skaal te kan produseer. “Die staat en sy organe se onvermoë om volhoubaar suiwer water tot beskikking van die landbou te stel, laat die land se voedselproduksie op ’n krisis afstuur. As die Minister iets te sê het oor water, behoort sy te begin by die effektiewe suiwering en korrekte toepassing van wetgewing, en nie net nog ’n stok te soek om landbou onregverdig mee by te kom nie.”

Mnr. Meintjes het verwys na talle projekte en ontwikkelings wat geweldig swaar is op watergebruik, soos die ontwikkeling van gholf-landgoedere. “Suid-Afrika is ’n water-skaars land, en daarom behoort die regering watergebruik te prioretiseer. Water vir voedselvoorsiening behoort ’n prioriteit te wees. Daardie prioriteit word egter toenemend in die wiele gery deur munisipaliteite wat nie hulle afvalwater behoorlik suiwer nie en rou riool in riviere uitstort. Talle boere wil nie meer daardie water gebruik nie, omdat dit eerder gewasse sal beskadig in plaas daarvan te bevoordeel. Myne wat ooglopend toegelaat word om suur water in rivierstelsels te stort, behoort ook vasgevat te word,” sê mnr. Meintjes.

Intussen word steeds geen antwoorde ontvang vanaf die polisie en die Nasionale vervolgingsgesag nadat TLU SA al meer as ’n jaar gelede strafregtelike klagte teen die Minister gelê het oor daar niks aan die besoedelingsprobleem gedoen word nie. TLU SA het ook reeds twee weke gelede die Minister skriftelik gevra vir ‘n afspraak, waarop ook nog geen antwoord ontvang is nie. “Ons sal verkies om nie met die minister deur die media te kommunikeer nie, daarom sal ns graag self met haar wil praat as sy ons brief sal antwoord,” sê mnr. Meintjes.