Subscribe by Email

Pretoria-naamsveranderinge ontstig

Die Vryheidsfront Plus het sy teleurstelling uitgespreek oor die uitsprake van mnr. Kosientso Ramokgopa, burgemeester van die Tshwane-metroraad, rakende naamsveranderinge. Die VF Plus het gesê dat die party steeds glo dat ‘n politieke skikking vir die naamkwessie moontlik is, maar dat polariserende uitsprake soos hierdie alle partye weer terugdwing na die politieke loopgrawe.

Die burgemeester het by die Vryheidspark in Pretoria gesê dat die naam Pretoria en talle straatname verander sal word voor die einde van 2012.

Volgens dr. Conrad Beyers, leier van die VF Plus-koukus in die metroraad, is ‘n politieke oplossing vir die naamkwessie moontlik. Die hoofstad behoort ‘n voorbeeld vir die res van die land te stel rakende die oplos van netelige, emosionele kwessies.

Die VF Plus het gesê dat die VF Plus-leier en adjunkminister, dr. Pieter Mulder, versoek sal word om die saak in die kabinet en met pres. Jacob Zuma op te neem. Die vorige keer toe daar gepoog is om Pretoria se naamsverandering in die Staatskoerant aan te kondig, het dr. Mulder die president oortuig om dit te laat terugtrek.

“Ons het gehoop dat hierdie burgemeester ‘n ander benadering as sy voorganger sou hê. Die burgemeester het met sy intrede onderneem om nie op emosionele kwessies soos naamsveranderinge te fokus nie, maar eerder op dienslewering. Noudat hy kritiek ervaar rakende dienslewering probeer hy dit toesmeer deur op populistiese sentimente van die ANC terug te val. Dit is ironies dat sulke polariserende uitsprake gemaak is by die Vryheidspark, wat veronderstel is om ‘n simbool van nasionale versoening te wees,” het Beyers gesê.

Die VF Plus sal voortgaan om die naamsveranderinge op alle vlakke teen te staan – op munisipale vlak, in die howe asook in die kabinet.