Subscribe by Email

Pomp nou ook saam in die kuberruim!

Die joernaaltydskrif POMP wat twee jaar gelede soos ’n vars bries in die Afrikaanse boekemark ingewaai het, het nou ook sy buiging in die kuberruim gemaak. Net soos wat die gedrukte weergawe ʼn lewendige en polsende publikasie is wat die kunste in Afrikaans vier, beloof Pomp-aanlyn (www.pomp.co.za) om vir groot opwinding op die wêreldwye web te sorg.

Pomp-aanlyn is nie ʼn elektroniese kloon van die gedrukte Pomp nie. Volgens die webwerf se redakteur, Jean Oosthuizen, is dit meer soos ʼn Siamese tweeling. “Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Hulle lyk baie dieselfde maar elkeen het sy eie persoonlikheid, “

Oosthuizen wat ook die gewilde en omstrede webwerf Kletskerk bedryf, sê daar is ’n groot behoefte vir ’n aanlyn-tydskrif vir mense met ’n ondersoekende gees. “Almal wil soms bietjie wegbreek van die daaglikse moord en doodslag wat die dagblaaie se voorblaaie volmaak. By Pomp wil ons op ’n inklusiewe en interaktiewe manier ’n gemeenskap help skep wat die verskillende genres van die Suid-Afrikaanse kuns- en kultuurlandskap waardeer en bevorder,” sê Oosthuizen.

Pomp-aanlyn wil sorg dat Pomp se biblioteek van gedagtes regdeur die jaar propvol nuwe gedagtes gepomp word. Die webwerf bestaan onder meer uit artikels deur die land se bekendste skrywers wat ook in die gedrukte weergawe gelees kan word. Daar is lusmakers van artikels wat in die jongste Pomp verskyn en bydraes wat slegs aanlyn beskikbaar is. Daar is ook ’n interaktiewe brieweblad waar lesers op mekaar se skrywes kan kommentaar lewer. ’n Pomp-kalender bied aan besoekers ’n blik op van die belangrikste kuns en kultuurgebeure oral in die land. Besoekers kan self dagboekinskrywings maak van optredes en foto’s daarby plaas. Elke dagboekinskrywing van kunstenaars se optredes en ander events kan deur die pomp-lesers gradeer word van swak tot uitstekend. Op die webwerf se pompstasie sal daar naas die lewendige en interaktiewe brieweblad ook gereeld interessante videoinsetsels geplaas word. Op die manier sal Pomp-aanlyn ʼn platvorm wees waar toonaangewende kunstenaars, maar ook minder bekendes en gewone deelnemers, nuwe neigings en tendense in Afrikaans aan die breër gemeenskap regoor die wêreld bekend kan stel. So word jong toonaangeërs gelanseer.

Net soos in die geval van sy gedrukte weergawe bestaan die visueel-prikkelende inhoud uit uitnemende foto-joernalistieke elemente en artikels uit die verskillende genres van die Suid-Afrikaanse kuns- en kultuurlandskap: skone kuns, fotografie, beeldhouwerk, argitektuur, leefstyl, reis, kos en wyn en vele meer.