Subscribe by Email

Pollie vir prez

“As die politici swyg oor misdaad, sal die papegaai uitroep.”

Of so iets.

In Nederland het ‘n dief ‘n papegaai vasgelê. ‘n Dag of water later kry die hartseer eienaar die wenk dat sy papegaai dalk op die plaaslike mark verkwansel word. Vergesel van die polisie is die man na die mark, waar Pollie ewe bly sy baas herken het, en die twee herenig is. Die man wat die papegaai probeer smous het is met nog ‘n trop gesteelde voëls gevang.

Of almal sal kan sê wie hul wettige base is, meld die berig nou nie.

Ongelukkig kan alle gesteelde goedere nie soos die bekkige klikbek die diewe aan die pen laat ry nie.

Maar nou begin ek maar met ‘n veldtog: “Pollie vir president.” Hy is minstens teë op misdaad, en spoel sy mond daaroor uit. Ek twyfel of Pollie soveel bog as die politici sal kwytraak. Veral sommiges wat nie meer hare het om kaalkop die waarheid te praat nie.

Behalwe natuurlik Bêrrie van die SABC se papegaai, Pollie Promises. Dié Pollie sit tydig en ontydig en beloftes maak: “As ek uit die hok kom sal ek nie Bêrrie se vriende byt nie.” Maar kom hy uit, byt hy. Of: “As julle my hok in die huis sit, sal ek nie vloek nie.” Maar wat, skaars binne dan gooi hy weer die rooi taal en moet hy weer buite gaan mooi broodjies bak. Pure politikus.

Neem nou maar van die mees onlangse juweeltjies wat onse politici kwytgeraak het: “Moenie ‘n tydrooster aan ons beloftes koppel nie.” “Ons gaan werksgeleenthede skep.” “Ons het rassisme verslaan.”

Die tydrooster het gevolg na die betrokke politikus sommer self oornag ‘n paar mense se huis laat platslaan het met die belofte hulle woon sommer nou-nou in nuwe, beter huise. Na ‘n jaar het een van die slagoffers die regering hof toe gevat, en is die man nou daaroor agter in die waglys.

Die werksgeleenthede wat geskep word is soos spoke. Mens hoor van hulle, maar sien hulle nie.

En een van die redes waarom sekere mense nie werk kan kry nie as daar werk is waarvoor hulle gekwalifiseer is, is dit omdat hulle te liggroen is, of dat hul stemme te grof is, of te veel ervaring het. Dis ‘n wolhaarstorie dat hierdie goewerment rassisme “verslaan” het. Die laaste apartheidswet is twintig jaar gelede afgeskaf – die bevolkingsregistrasiewet waarna daar amptelik nie meer wit en swart en bruin was nie. Nee, die goewerment het nie rassisme verslaan nie, dit net teruggebring. En solank iets swart is, is dit glo nie rassisties nie.

En hoe Bioskoup Toetoet wil wit taks instel as daar amptelik nie meer wittes is nie? Gaan hy die tongtippietoets instel?

Wat van ‘n vermoënstoets sodat die manne wat in Bishopscourt se luukse wonings uithang maar daai spesiale taks betaal? Dit kan nog wettig gemeet word.

Dus sommer nog ‘n nominasie: Pollie vir aartsbiskop.

Pollie sal ook minder bog praat.