Subscribe by Email

Politieke partye is skepties oor die rede vir die Guptas se onttrekking

TTP14TREND_GUPTAS11-10-04-2016-17-04-06-691-Die omstrede Gupta-familie het David Maynier van die Demokratiese Alliansie daarvan beskuldig dat hy hulle gebruik as die bal in sy party-politieke speletjie. Die familie het die naweek aangekondig dat hy voor die einde van die jaar van al sy Suid-Afrikaanse belange gaan ontslae raak. Die Guptas sê dit is in belang van die familie se werknemers én die land. Maynier het die besluit verwelkom, maar meen dit is oneerlik om te sê dit is geneem in die land se belang. Hy beskryf die Guptas as rotte wat ‘n sinkende skip verlaat.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters is intussen van plan om die verkoop van die Guptas se belange dop te hou om te sien aan wie dit verkoop word. Die party sê hy het die land gewaarsku dat die Guptas en hulle strooipoppe groot hoeveelhede geld ontwettig uit Suid-Afrika smokkel. Die EVV meen dit is duidelik dat die web van korrupsie rondom die familie te ingewikkeld is om te glo dat sy belange eenvoudig verkoop gaan word. Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, het gevra dat die Openbare Beskermer se ondersoek na die Guptas afgehandel word voor hulle hulle aandele in die land verkoop.