Subscribe by Email

Politieke korrektheid met muisneste

Herrie het in straat grootgeword waar ‘n welgestelde gesin gewoon het wat deurgegaan het vir baie suinig wees. Volgens oorlewering het die pa van die huis vir sy seuns (hy het net seuns gehad) gesê as hulle eendag trou, moet hulle nie net na geld kyk nie. Dis swaar om dom kinders groot te maak.
Maar nou het ‘n Amerikaanse navorser gevind dat die Amerikaners nie na geld of intelligensie kyk as hulle die knoop wil deurhaak nie. Ook nie voorkoms, omvang, persoonlikheid, kerkverband of liefde nie, maar politiek.
Volgens dié navorser speel dit by verre die meeste gevalle die oorheersende rol. En wanneer iemand rooi hakskene het, moet die Amerikaners tog eers seker maak of die een vir jy leepogies het, vir Obama of Palin wil stem. As die antwoord verkeerd is, hou wyd.
Nou ja, Herrie het grootgeword met enkele gevalle waar dit bekend is dat die een Nat, en die ander Sap was. Dit was omtrent soos die gevalle waar die een eggenoot in die NG Kerk was, en die ander ‘n “Apostolie” soos omtrent almal wat nie NG was nie, destyds bekend gestaan het.
Want kyk, om destyds politiek te verskil het, was ernstige sake. Terwyl die grootmense mekaar by politieke vergaderings te lekker met daai lang rye aanmekaar opvou-skoustoele gemoker het, het die kinders op die skoolterrein sokker teen mekaar gespeel. Die gesuiwerdes teen die smelters.
Sake kon liederlik skeefloop. Johny de Lange het dr. Manie Schoeman in die parlement met ‘n allemintige opstopper binne-in die ANC in gemoker.
In Calvinia in, daar waar ‘n hele paar manne ook in die ou dae “regged*&^der is” het ‘n spreker ten gunste van republiekvorming kom praat.
Na die man uit die Kaap sy storie klaar gestorie het, vloog ‘n pieperige mannetjie op en skree: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?”
En maak nie saak die man van die Kaap verduidelik nie, elke keer vloog die mannetjie op, en gil: “Ja, maar wie gaan ons beskerm?”
Smaak Herrie hy was effe teë op republiekvorming.
Reg agter die mannetjie het ‘n groot, fris tante gesit. Toe die mannetjie vir die soveelste keer sy lyf meerkat hou, druk die tante hom op sy skouers plat terug in sy stoel, maar die gestoelte skoon flenters plat op die grond: “Sit str*&t,” sis sy: “Ek sal jou beskerm!”
Herrie vermoed daar was groot harmonie in die tante se huis. Absolute politieke eensgesindheid. Niemand sal waag om ‘n ander opinie te hê nie.
Ja, in Suid-Afrika hoor ons terme soos kleptokrasie, nepokrasie en so aan. Maar wat van pantoffelkrasie?
Herman Toerien