Subscribe by Email

Polisieweerwraak in Centurion vermoed

Die CDP is bekommerd dat die arrestasie van mnr. Johan van der Schyff van die Valhalla Gemeenskapspolisiëringsforum en dreigemente om ander lede van die forum te arresteer besig is om in ‘n heksejag te ontaard, aldus mnr. Richard Botha, raadslid van die Christen-Demokratiese Party (CDP) in die Tshwane Metroraad.

“Die afgelope Sondagaand het ‘n voorval plaasgevind waartydens verskeie werklose skollies ‘n maker in die oproepsentrum van die GPF in Valhalla ingedra het. Hulle het beweer dat hy deur lede van die plaaslike GPF aangerand is. Die persoon aan diens het dadelik die polisie en ‘n ambulans ontbied, maar aangesien die skollies ook oproerig en dreigend was, het hy GPF-lede wat op patrollie was, per radio ontbied. Mnr. Johan van der Schyff het dadelik gereageer, maar met sy aankoms by die oproepsentrum het die skollies hom dadelik as die persoon uitgewys wat hul makker sou aangerand het. Hulle het ook met hul selfoon ‘n foto van hom en sy voertuig geneem.

“Die beseerde is ondertussen na die Kalofong-hospitaal geneem, met ernstige beserings soos ‘n versplinterde been, gebreekte vingers en ‘n diep sny. Hy is daar oorlede. Mediese personeel het na bewering aangedui dat die beserings strook met ‘n tref- en trapvoorval.

“Op sterkte van die skollies se bewerings, het die polisie na Van der Schyff se huis gegaan, en hom gearresteer al was daar geen prima facie getuienis nie. Hulle het ook nie die voertuig geneem om DNA of ander forensiese toetse op te doen nie. Gegrond op die polisieverslag is Van der Schyff borgtog geweier toe hy in die hof verskyn het.

“Die polisie het sedertdien 12 lede van die GPF gebel en aangesê om polisiestasie toe te kom om verklarings af te lê. Hulle is na bewering meegedeel dat hulle gearresteer sou word wanneer hulle by die polisiestasie opdaag.

“Op regsadvies het hulle besluit om nie polisiestasie toe te gaan om die verklarings af te lê nie. Die ondersoekbeampte, AO Warren Mgong het hierna elke lid individueel begin bel en meegedeel dat hul versuim om op te daag, neerkom op skuldig wees deur assosiasie aan die aanranding, en dat hulle gearresteer gaan word. Die CDP is bekommerd dat hierdie in ‘n heksejag ontwikkel en dat sekere stappe gedoen word voor die oorsaak van sterfte nog bepaal is. Die CDP is van plan om die saak met die Openbare Beskermer op te neem.”

Richard Botha