Subscribe by Email

Polisie versuim mees basiese pligte

Foto, Herman Verwey, Beeld

Foto, Herman Verwey, Beeld

Lizel Steenkamp berig aan Beeld.

Bevelvoerders by die meeste polisiekantore in die land versuim die mees basiese plig om beheer en toesig oor beamptes, dossiere, wapens en voertuie uit te oefen.

Weeklikse inspeksies word “in die algemeen geminag” en nasionale opdragte verontagsaam.

Voorts het bevelvoerders en ander hoofde ’n “ernstige gebrek” aan vaardighede en kennis.

Dié verdoemende bevindings van wat by 733 van die land se 1 116 polisiekantore aangaan, is vervat in ’n verslag van die polisie se nasionale inspektoraat.

Hulle het van April tot Desember verlede jaar landwye inspeksies onderneem om te bepaal of bevelvoerders dissipline handhaaf en polisiekantore behoorlik bestuur word.

Die meerderheid van die inspeksies was by polisiekantore in Gauteng (316), Mpumalanga (120) en die Vrystaat (66).

Komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het die verslag twee weke gelede op versoek aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie beskikbaar gestel.

Dit skets ’n donker prentjie van wat daagliks by polisiekantore aan die gang is en hoe die mees basiese beheer en kontrole ontbreek.

Die inspektoraat het bevind speurders se ondersoekwerk is in al die provinsies “swak”, onder meer weens ’n gebrek aan opleiding en vernuf. In KwaZulu-Natal word dit selfs aan “pligsversuim” toegeskryf.

Speurders in Limpopo, die Noord- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gee voorts nooit terugvoering aan klaers oor hoe ondersoeke vorder nie. Indien dit wel gebeur, word dit nie in dossiere aangeteken nie.

Cele het in sy skrywe aan die portefeuljekomitee gesê die inspektoraat se bevindinge is einde Desember aan die provinsiale polisiehoofde gestuur “vir korrektiewe optrede” waar nodig.

Die komitee het vroeër vandeesweek uitgevaar teen die terugkeer na die apartheidspolisie se range om dissipline binne die polisie te herstel.

Lede het die topbeamptes daarop gewys dat net goeie bestuur die polisie kan regruk.

Dissipline

  • In Gauteng en die Noord- en Oos-Kaap word daar nie parade gehou wanneer beamptes vir diens aan- of afmeld nie.
  • Geen inspeksies word gedoen by speurtakke in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap nie.
  • Daar is ’n gebrek aan “toewyding en integriteit” by beamptes in Mpumalanga.
  • Beamptes betaal nie vir persoonlike telefoonoproepe nie en daar word nie behoorlik boekgehou van persoonlike foonoproepe nie.

Wapens

  • Die boekhouding en bestuur van polisiewapens is onvoldoende in Gauteng, Limpopo, die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap.
  • Die verlies van vuurwapens word nie aangemeld nie en as dit aangemeld word, word dit nie behoorlik bestuur nie.


Bewysstukke

  • Toesig oor SAPD 13-store waar die polisie bewysstukke vir veilige bewaring inteken, is ondoeltreffend en ’n “groot bekommernis”.


Admin

  • Die verklarings wat beamptes in Limpopo en die Noord-Kaap afneem, voldoen nie aan vereistes nie.
  • Die bestuur van personeel se verlof, siekteverlof en wegblyery van die werk is “problematies”.
  • Weens die swak toekenning van personeel is daar by sommige polisiekantore in die Wes-Kaap te min beamptes om ’n 24 uur- diens te lewer.

Voertuie

  • Daar is swak toesig en beheer oor die gebruik van polisievoertuie.

One Response to Polisie versuim mees basiese pligte

  1. Fred Muller

    Februarie 6, 2014 at 4:22 pm

    Kan nie meer saamstem nie.Hier op Reitz in die Vrystaat is ook sekere persone wat maak net wat hulle wil.Ek het vroeg in 2012 n aanranding saak gemaak en nog geen terugvoer daaroor gehad nie.Intussen het ek uitgevind dat die persoon wat my aangerand het verskeie ander persone aangerand het.Een man het by die dood omgedraai.Die persoon het ook op iemand geskiet en aangesien die koeel nie verwyder kan word nie,weier die polisie om die saak te ondersoek.Een van die man se werkers(moontlik n Lesotho burger) is dood in sy kantoor gevind,maar voor die polisie kon optree is die lyk verwyder.Al wat die polisie toe te se het is dat hulle niks sonder n lyk kan doen nie.Verskeie polisiemanne is ook reeds aan diens gedood,vermoedelik omdat hulle te veel van die uitgebreide veediefstalle uitgevind het.Dit blyk ook dat die staatsaanklaer n drank probleem het en as gevolg daarvan die dorp uitverkoop vir dopgeld.