Subscribe by Email

Polisie ontwapening is as gevolg van laksheid

“Die ontwapening van 27 000 polisielede omdat die lede nie die nodige bevoegdheidsertifikate vir vuurwapens het nie, is as gevolg van laksheid van die polisiebestuur. Die nuwe vuurwapenwet het reeds in 2004 in werking getree en vereis dat polisielede ook bevoegdheidsertifikate moet hê. Die argelose, roekelose en nalatige wyse waarop vuurwapens in die Polisie hanteer word, veroorsaak nou dat misdaad nie behoorlik bestry kan word nie. Dit is reeds agt jaar vandat die wet in werking getree het en indien die polisiebestuur betyds opgetree het, sou hierdie dilemma nie ontstaan het nie,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

“As in ag geneem word dat die Polisie 264 845 vuurwapens besit en die afgelope sewe jaar 20 429 (vanaf 2004) vuurwapens verlore geraak het en net 4 810 teruggevind kon word, is dit noodsaaklik dat polisielede hulle verantwoordelikheid met vuurwapens moet nakom. Vir die publiek word streng vereistes vir bevoegdheid en beheer van vuurwapens vereis en ’n oortreding daarvan is strafbaar. Dit is ondenkbaar dat ’n lid van die Polisie met ’n vuurwapen tussen die publiek kan beweeg, maar nie bevoegd is om die wapen te hanteer nie. Geen wonder onskuldige burgers word geskiet deur nalatige optrede deur die Polisie nie. Ek stem saam dat ontwapening misdaad gaan bevorder en polisielede gaan belemmer, maar die polisiebestuur moes betyds opgetree het en hulle moet die skuld daarvoor kry,” het Groenewald gesê.