Subscribe by Email

Polisie geloof vir vinnige optrede

“Agri SA wil die polisie gelukwens met verskeie optredes die afgelope week wat gelei het tot die voorkoming van ‘n plaasaanval in Kwazulu Natal en ook die spoedige arrestasie van verdagtes van boeremoordenaars in Gauteng en Limpopo. Dit is ‘n bewys dat vinnige en professionele optrede goeie resultate kan oplewer, en daarvoor verdien die polisie ‘n pluimpie”, sê André Botha, voorsitter van Agri SA se Landelike Beveiligheidskomitee.

“Die boerderygemeenskap verwag niks anders as professionele diens van die polisie nie. Ferm optrede deur die polisie moet ‘n sterk boodskap aan kriminele deurgee dat daar geen verdraagsaamheid sal wees wanneer hulle by landelike misdaad betrokke is nie. Landelike gemeenskappe moet aangemoedig word om met die plaaslike polisie saam te werk. Voorkomende optrede deur die polisie steun swaar op voortydige inligting en misdade word ook suksesvol opgelos deur samewerking tussen gemeenskappe en die polisie. Op dié wyse sal misdadigers nie ‘n heenkome hê of skuiling kan vind in hulle eie gemeenskappe nie”, sê Botha.

Die vinnige optrede van die polisie het daartoe gelei dat verskeie voornemende plaasaanvallers gedood en een gearresteer is in ‘n mislukte rooftog by die Lyttle Harmony Farm in Richmond, Kwazulu Natal. Soortgelyke optrede het gelei tot die arrestasie van twee verdagtes vir die moord op die Le Roux egpaar van Heidelberg en drie verdagtes vir die moord van mnr Koos Grobler van die plaas Henley by Letsitele. Al die verdagtes het reeds ‘n eerste verskyning in die hof gemaak en hulle onderskeie sake duur voort.

“Agri SA doen ‘n beroep op die onderskeie ondersoekbeamptes om alles in hulle vermoë te doen om hulle ondersoeke professioneel af te handel. Goeie ondersoekwerk gebaseer op feite en getuienis stel howe in staat om sake vinnig aan te hoor en gepaste strawwe aan skuldiges op te lê. ‘n Beroep word op verhoorbeamptes in die onderskeie sake gedoen om by skuldigbevinding van die verdagtes geen genade te toon by strafoplegging nie, omdat die moordenaars ook geen genade vir hulle slagoffers getoon het nie. ‘n Sterk boodskap deur die polisie en die howe dat misdaad van watter aard ookal, nie geduld sal word nie, is nou nodig om misdadigers af te skrik”, sê Botha.