Subscribe by Email

Polarisasie oorboord

Regter Collin Lamont het in sy uitspraak van die Julius Malema-haatspraakverhoor die kwessie van polarisasie behoorlik onder die loep geneem, maar hy sou stellig nie sy oë kon glo oor die polarisasie wat nou uit internetkommentare blyk nie.

Veral die nuus oor die ANC se besluit om teen die uitslag te appelleer het ‘n vloedgolf protes ontlok, sommige baie kras, sommiges baie heftig, en ‘n groot aantal wat aandui hulle het nou finaal moed met die land opgegee.

Trouens, so vinnig was die ontnugterde reaksie, dat minstens een groot nuusdiens die berig self oor die appèl – nie net die kommentaar nie – van sy webbladsy verwyder het.

Tussenin is daar ook reaksie – selfs in die Afrikaanse kommentare – wat die besluit om te appelleer, steun. Van hierdie steun is duidelik bloot om skoor te soek; die stemme oor beginselbesware oor die uitspraak het duidelik stil geword.

Die facebook-reaksie (hieronder geplak) wat wyd per e-pos versprei is, is waarskynlik die ergste – selfs al sou dit blyk ‘n vervalsing te wees.

Dit is so duidelik soos daglig dat die ANC geen snars begrip het van regeer in algemene belang soos wat ‘n ware demokrasie vereis nie. Voeg hierby die onlangse uitsprake wat op ‘n onbegrip van die skeiding van magte en die beginsel van ‘n grondwetlike demokrasie dui nie.

Partye en instansies wat om welke rede ook al swyg oor hierdie saak, doen die land ‘n reuse onreg aan, en kiesers sal met reg wonder wat die motiewe hiervan is: probeer daardie partye swart kiesers nie vervreem nie – dit terwyl daar geen aanduiding is dat alle swart mense of selfs die meerderheid selfs na die duidelike polarisasie die haatspraak steun nie, of stem hulle met die haatspraak saam?

By minstens sommige partye geld die liberale konsep dat individuele regte, waaronder veral die reg op uitdrukking, noodwendig swaarder weeg as groep- of minderheidsregte. Die FW de Klerkstigting het pas hierna as gemeenskaplike regte verwys, en dit nie aan individuele regte ondergeskik gestel nie. Die mate waarin individuele regte vry of beperk is word dikwels gemeet aan die hand van die vlakke van uitdrukkingsvryheid, en al beperking wat in ‘n klassieke liberale omgewing geduld word, is waar dit ‘n ander individu se waardigheid aantas – dit wil sê laster en soortgelyk.

In hierdie konteks was die klag teen Malema dat ‘n groep se regte aangetas word, en die regter het duidelik bevind dat dit nie net die geval is nie, maar dat minderheidsregte in Suid-Afrika baie broos is.

Vryheid van uitdrukking en persvryheid kan egter nooit so wyd wees dat dit haatspraak insluit nie, en dit word pertinent deur die grondwet se handves van menseregte uitgesluit. Selfs met die mees liberale uitleg waar groepregte hoogstens as die kollektief van ‘n groep se individuele regte beskou word kan die haatspraakimplikasie van dit wat voor die hof gedien het nie ontken word nie – die verbod op onder meer die aanstigting tot geweld of die propagering van haat gebaseer op grond van ras, etnisiteit, geslag of godsdiens.

Word die uitleg aan die hand van Suid-Afrika se presedentereg en internasionale reg bygewerk soos wat regter Lamont gedoen het, verdiep die regsverafskuwing bloot.

Wat die land nou nodig gehad het was suiwer leierskap van alle politici – nie aanstigting of dawerende swye nie. En nee, pres. Jacob Zuma se onderhoud waarin hy pas weer Malema se stertvere geprys het – weliswaar met ‘n paar voorbehoude – was nie die regte medisyne nie en ook nie versoenbaar met basiese demokratiese beginsels nie.

Herman Toerien

3 Responses to Polarisasie oorboord

  1. Herman

    September 16, 2011 at 5:38 am

    DA en Afrikaans – reaksie op haatspraak-uitspraak
    In ‘n onlangse nuuskommentaar het ek gemeld dat die DA en die ACDP onder die partye tel wat nie op die Julius Malema-haatspraak-uispraak gereageer het nie. Dit was na ek lank dié twee partye se webbladsye gereeld besoek het om te sien of daar reaksie was. Heelwat later, na die nuuskommentaar versend is (ek het ‘n spertyd vir ‘n kliënt), het ek op News 24 bemerk dat de DA toe wel later gereageer het. Ene “Gemsbok” het my daarop gewys, en ek het onderneem om, indien ek die verklaring in Afrikaans kry, dit ook op http://www.koerant.co.za te plaas.
    Intussen het ek self die DA genader, en ‘n skrywe ontvang met hierdie uittreksel: “Die feit dat die DA net verklarings in Engels uitreik is bloot ‘n pragmatiese oorweging as ‘n linguisties-poltieke voorkeurbeleid.”
    Ek neem as vrywilliger en ter wille van Afrikaans, en sonder vergoeding, aan http://www.koerant.co.za deel. Dat ek nie bereid is om self die DA se verklarings te vertaal nie, is nie weens persoonlike politieke voorkeure nie. Toevallig stem ek (wat self oor staatsregtelike en volkeregtelike kwalifikasies beskik) nie met die DA se vertolking dat regter Lamont verkeerd was saam nie, en deel Nasionale Pers, onder meer, se standpunt hieroor.
    Die DA se mediabeampte in die Vrystaat het ook in die skrywe onderneem dat die spesifieke saak met Kaapstad opgeneem sal word. Ek onderneem steeds om die DA se standpunt te plaas wanneer ek dit in Afrikaans kry, hoewel, soos ek ook aan die mediabeampte uitgewys het, die reaksie op die DA-standpunt in die internet-kommentare oorweldigend besonder negatief was, en dat die saak dalk daar gelaat moet word.
    Intussen het die Menseregtekommissie aangekondig dat hulle in die lig van die gebeure die saak as nasionale dialoog gaan aanpak. Hofbevele gaan immers niemand dwing om ‘n ander nie te haat nie – hoogstens dat dit nie tot aanstigting van ander uitgedruk word nie.
    Ek, soos baie ander in die gemeenskapsmedia, het nie die tyd en middele om nuusverklarings in Afrikaans te vertaal nie. Voorkeur word dus gegee aan instansies wat dit wel in Afrikaans verskaf, soos ook uit die wydlopende plasing van instansies soos Afriforum, die AB, Agri SA, die CDP, die FW de Klerkstigting en ander gesien kan word. Persoonlik probeer ek ‘n balans met die bydraes plaas. Om redes van hul eie is ek van die verspreidingslyste van onder meer TLU SA en die FV+ afgehaal, en laat ek dit aan ander deelnemers oor om dié bydraes te plaas.
    Wanneer ek materiaal vir betalende kliënte opstel, doen ek inderdaad moeite met die oplees van onder meer Nederlandse, Vlaamse, Duitse en af en toe selfs Nordiese publikasies, tesame met ‘n wye verskeidenheid Engelstalige bronne. Dit word ook behoorlik verwerk om oorspronklike werk met ‘n verskeidenheid bronne te word.
    Herman Toerien

  2. Herman

    September 14, 2011 at 1:39 pm

    Dankie vir die reaksie. Ek het die betrokke webwerf verskeie kere besoek tot ek later aanvaar het almal wat wou reageer, het gereageer. Gistermiddag laat het ek gesien die DA het sedertdien gereageer (op News 24) waar dadelik baie ontstelde reaksie op die DA se reaksie was. Volksblad / Beeld / Die Burger het vandag in hul hoofartikels lynreg standpunt teen die DA / Star se standpunt ingeneem.
    Gewoonlik is ek suinig om die CDP se standpunte te laai (dis maklik om te laai want dit bevat klaar ‘n Afrikaanse teks) en ek wou dus aanvanklik nie die teenargumente op die DA-standpunte plaas nie (dis in elk geval nie my werk om hier kant te kies tussen partye nie). Omdat dit hier egter oor grondliggende staatsregtelike uitgangspunte handel, vra ek begrip dat ek nou ook die CDP se reaksie gaan plaas. (As die DA ‘n Afrikaanse teks stuur plaas ek dit self).

  3. Gemsbok

    September 14, 2011 at 1:08 pm

    Die DA het in ‘n persverklaring deur me. Dene Smuts sy standpunt uitgespreek dat regter Lamont se uitspraak foutief is en dat die Afrikanergemeenskap nie broos is nie.

    Die volle persverklaring kan hier gelees word op die DA se webwerf:
    http://www.da.org.za/newsroom.htm?action=view-news-item&id=9772