Subscribe by Email

Plaasmoorde

Protes teen plaasmoorde

Protes teen plaasmoorde

Nadat daar vir ‘n ruk lank bykans daagliks ‘n plaasmoord in Suid-Afrika was, was daar weer ‘n seldsame stilte – wat toevallig saamgeval het met die haatspraakverhoor van Julius Malema.
Een van die implikasies van die moord-stilte was dat daar uit verskeie kringe oproepe was dat die verhoor van Malema ‘n fout was – dat die verhoor juis die oorsaak van die polarisasie is, en dat dit aan Malema die kans gegee het om presidensieel te vertoon.
Nie almal het met dié vertolking saamgestem nie. Veral regsgeleerdes meen Malema het sy regsaak baie skade berokken deur vir die kameras te speel.
Skaars is die verhoor vir argumente uitgestel, of daar is reeds weer ‘n rits plaasmoorde. Nie net die wit kommersiële boere is slagoffers nie. Dit is dikwels hul gesinne, en soms selfs babas. Daar word ook plaaswerkers vermoor in sulke plaasaanvalle, soos wat in die jongste aanval ook gebeur het.
Nog ‘n periode waartydens plaasmoorde vreemd te midde van ‘n hewige vlaag opgedroog het, was ten tyde van die wêreldsokkertoernooi verlede jaar. Voor die toernooi was dit so erg dat die probleem buitelandse media gehaal het – selfs nog voor ‘n Belgiese, en kort daarna, ‘n Kanadese burger self die slagoffers van besonder grusame plaasmoorde geword het. Die aard van die buitelandse nuusdekking was so erg dat dit eintlik verbasend was dat soveel buitelanders nog die land vir die toernooi besoek het. Uiteindelik was die besoekers veel minder as wat gehoop is, en het munisipaliteite onder meer kaartjies opgekoop om die pawiljoene vol te kry.
Waarskynlik die nuus wat Suid-Afrikaners wat hieroor bekommerd is nou die minste wil hoor, is dat pres Jacob Zuma amnestie aan ‘n rits misdadigers, waaronder plaasmoordenaars oorweeg. Terwyl die stemme in die landbougemeenskap hard bly roep dat alle politieke partye plaasmoorde baie beslis moet veroordeel, kan daar geen misverstand wees dat plaasmoorde boos en verwerplik is nie.
Dat die land met ‘n besondere soort probleem te kampe het, blyk uit die syfers: wêreldwyd is die moordkoers sowat 5 per 100 000 per jaar. In Suid-Afrika is dit net minder as tien keer so hoog. Interpol stel die moordkoers onder kommersiële boere en hul gesinslede op sowat 300 per 100 000 per jaar.
Plaasmoorde is so ‘n groot saak dat partye dit nie, soos sommiges wat swart stemme probeer trek, dit tot ‘n provinsiale aangeleentheid kan afgradeer nie. Dit is belangrik dat die kiesers moet kan sien dat ‘n party erns het daarmee as dit plaasmoorde en plaasaanvalle veroordeel deurdat dit van die partyleiers self moet kom. Dit moet ook deurgaans wees, nie net periodiek wanneer dit ‘n saak is wat besonder baie media-aandag trek nie, want ‘n party wat opportunisties ter wille van mediablootstelling selektief plaasmoorde veroordeel, tree laakbaar op.
‘n Verskoning, uitgespreek of stilswyend, dat hierdie soort veroordelings ‘n party sy broodnodige swart stemme sal kos, is nie geldig nie. Die laaste plaasmoord bevestig ook dat dit nie net blankes is wat slagoffers is nie. ‘n Ontleding van plaasaanvalle dui wel daarop dat die karakter dikwels verskil van die velkleur van die slagoffers – by plaasaanvalle op swart mense is die verkragtingskoers byvoorbeeld baie hoog. Swart boere wat veediefstalverliese ly, verloor baie dikwels hul ganse kuddes. – Herman Toerien

One Response to Plaasmoorde

  1. Edwin

    Mei 6, 2011 at 12:16 pm

    Die eerste stilte was tydens die sokker 2011. Weke voor die gebeurtenis was Zuma se bevel:”behave yourselves for just 4 weeks”. Die opdrag is stiptelik uitgevoer, en byna geen moorde was aangemeld nie.

    Dit was so sril dat selfs die gesin wat assiel in Ierland gekry het, teruggestuur was na S.A. So ook Brandon Huntley.