Subscribe by Email

Plaasmoorde

“Dit is met afgryse dat die boeregemeenskap van Gauteng elke week moet hoor van nog ‘n plaasaanval, nog ‘n oom en tannie wat op die mees brutale maniere vermoor en geskend word”, sê Dirk Hanekom, Hoofbestuurder van Agri Gauteng.
Daar word bykans daagliks gerapporteer oor nog ‘n boer wat vermoor is. Die afwesigheid van betroubare amptelike statistiek oor insidente op plase maak dit soveel moeiliker om te bepaal of daar vordering gemaak word in die stryd teen plaasgeweld.
Die gevolg van plaasmoorde is dat families uitmekaar geskeur word en ‘n groot ontwrigting vir plaaswerkers tot gevolg het aangesien hulle heenkome op plase bedreig word. “Die hartseerste van alles is, dat dit nie saak maak hoeveel energie die polisie in misdaadvoorkoming sit nie, die frekwensie van plaasgeweld bly steeds hoog. Dit voorspel niks goeds vir, voedselproduksie of voedselsekerheid in Suid Afrika nie” sê Hanekom.
Prioriteit moet dringend gegee word aan plaasbeveiliging deur beide boere en boereverenigings aan die een kant en die polisie aan die ander kant. Die bekendmaking en implementering van die reserviste beleid asook die gepaardgaande opleiding moet nou dringende prioriteit aandag van die polisie ontvang. Agri Gauteng doen ‘n beroep op die Minister van Polisie om die beleid nou vry te stel en daarmee saam die nodige hulpbronne aan reserviste beskikbaar te stel om landelike beveiliging saam met die boergemeenskap effektief toe te pas.