Subscribe by Email

Plaasmoord: Partye meen politiek speel rol

Die moord op ‘n boer, wat aan sy bakkie vasgebind en sowat ‘n kilometer ver gesleep is, was “niks meer as rassisme nie”, het die VF+ gesê.
Mnr. Pieter Groenewald, VF+-leier in Noordwes, het die boer identifiseer as mnr. André Van der Merwe. Die 49-jarige Van der Merwe het buite Ottosdal in dié provinsie geboer.
“Die moord op mnr. André van der Merwe, ‘n boer naby Ottosdal, nadat sy aanvallers hom agter sy eie bakkie aangesleep het, is niks meer as rassisme nie,” het Groenewald gesê.
“Dis duidelik dat politieke motiewe en naakte rassisme al hoe meer na vore tree wat uit die wreedheid van plaasaanvalle gesien kan word. Die regering en die Minister van Polisie is laks om op te tree teen plaasaanvallers en die landelike beveiligingsplan bestaan slegs in teorie maar nie in die praktyk nie.
“Die wreedheid van die plaasmoord is skokkend en behoort die regering tot aksie te dwing om daadwerklik op te tree – anders is dit duidelik dat die regering apaties staan teenoor rassisme en plaasmoorde.”
Die Christen-Demokratiese party (CDP) het met afgryse op die jongste plaasmoord gereageer. “Na ‘n tyd van relatiewe stilte met plaasmoorde, vind ‘n besonder wreedaardige moord nou plaas,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP.
“Ongelukkig verklaar dit nog nie hoe die land ‘n vlaag plaasmoorde kan beleef, maar wanneer dit vir die ANC krities raak, soos tydens die wêreldsokkertoernooi en Julius Malema se haatspraaklverhoor, is daar ‘n stilte nie. Dit lyk so of die ANC beheer daaroor het, of andersins dat iemand wat wel beheer daaroor het, dit in ‘n yslike verleentheid vir die ANC omskep.
“Die matelose wreedheid van hierdie geval dui nietemin daarop dat polarisasie in die land verminder, nie verhoog moet word soos wat die lied ‘skiet die Boere’ doen nie.”