Subscribe by Email

Persvryheidsdag herdenk

“Terwyl internasionale Persvryheidsdag vandag gevier word, is die vieringe in Suid-Afrika effens gedemp. Suid-Afrika het verlede jaar met 5 plekke op die internasionale persvryheidsindeks teruggesak na die 38ste posisie en is lank nie meer die mees persvrye land op die kontinent nie. Trouens, Freedom House het Suid-Afrika as slegs gedeelte persvry geherklassifiseer,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP).

“Onder die redes wat Verslaggewers Sonder Grense verskaf het oor hoekom Suid-Afrika so die kreeftegang gegaan het, is die ANC se planne vir ‘n mediatribunaal en wetgewing wat die vrye vloei van inligting verder sal beperk, en Julius Malema se walglike gedrag teenoor ‘n BBC-joernalis.

“Mediavryheid speel ‘n onontbeerlike rol in demokrasie, en in die stryd teen korrupsie. Vanjaar is reeds 18 joernaliste in die uitvoering van hul werk dood, en 151 is of was in aanhouding. Altesaam 128 internetjoernaliste is in aanhouding.

“Volgens Verslaggewers sonder Grense se jongste lys van media-roofdiere, is 7 van die 38 bedreigings in Afrika. Hieronder tel Robert Mugabe en koning Mswati III op die Suid-Afrikaanse grense. Suid-Afrika se verhouding met dié twee despote is egter nie in ooreenstemming met hul internasionale aansien nie.

“Ons eer die joernaliste wat met hul lewens geboet het om demokrasie aan ander te help verseker.”