Subscribe by Email

Perspektief op stryd van Hervormers

Die onmin in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK) het op die oog af op 18 April ‘n wending geneem toe die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (sinode) briewe aan alle ampsdraers en lidmate gestuur het.
Hoewel hierdie stryd binne die NHK woed, kan geen lidmaat van die Afrikaanse susterkerke nié hiervan kennis neem nie. Verskeie van die brandpunte is dwarsliggend in al drie kerke teenwoordig, en daar is ook aansienlike skakeling. Danksy hierdie skakeling, ook via die internet, “erf” van die ander kerke die kwessies op die tafel
Binne die NG Kerk is daar trouens twee vlakke van weerstand – diegene wat weerstandig is oor die jongste se sinode se besluit om Belhar in te voer, en ‘n tweede groep wat weens die verbintenis met die boek, Die Trojaanse perd in die NG Kerk, die bynaam perdebouers gekry het.
In die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA), kan breedweg onderskei word tussen die gereformeerde (gereformeerdheid impliseer per definisie ‘n onvoltooide proses) Doppers en die stoere Doppers. Met die jongste sinode het ‘n predikant opgemerk dat stryd deel van die GKSA se DNS is, en die huidige kwessies wentel onder meer oor die sing van die nuwe Psalmomdigtings, vroue in die amp en kelkies met Nagmaal.
Die ontevrede groep in die Hervormde Kerk noem hulself die steedsHervormers. Die vonk in die kruitvat was ‘n besluit van die AKV om uiteindelik, soos die ander susterkerke, apartheid as sonde te verklaar. Dit is ‘n hopelose oorvereenvoudiging, maar ‘n volledige uiteensetting sou etlike verhandelings behels – en dis juis deel van die probleem, dit is ongelooflik kompleks met eindelose tegniese aspekte. Kortliks egter: Besluit 54/69 het gesê “Die Kerk verwerp apartheid omdat dit [o.a.] in stryd is met die evangelie van Jesus Christus”. Die besluit van die Buitengewone AKV (wat 54/69 vervang) het gelui: … “Dit [die NHKA se teologiese regverdiging van apartheid] was in stryd met die evangelie van Jesus Christus.”
Reeds vroeg het die steedsHervormers aangedui dat dit egter net die oortjies van die seekoei was, eers daarna het die ontevredenes eers perspektief begin kry oor wat alles pla.
En dit is as ‘n mens besef dat dit wat so maklik as brandpunte geïdentifiseer word, net die oortjies van die seekoei is, en ‘n mens na die grondliggende kwessies kyk dat ‘n mens besef hoekom al drie Afrikaanse susterkerke met primêr dieselfde probleemkwessies worstel.
Baie oppervlakkig gestel, kan dit gestel word as ‘n afstand wat tussen gereformeerde / reformatoriese denke aan die een kant, en fundamentalisme aan die ander kant ontstaan. Die definisie van eersgenoemde word onder meer saamgevat in dit wat lank reeds deel van die NH Kerk se begrip uitmaak: Ecclesia reformans semper reformanda. : “’n Gereformeerde kerk moet altyd [weer] reformeer”
As “teenvoeter” het ‘n tweede begrip ontstaan, ortodoks-gereformeerd.
In die praktyk stel die oorspronklike gereformeerdheid die begrip van “deurlopende studie van die Skrifte om die Wil van die Here te bepaal” (dus onvoltooid) teen ‘n begrip van “die Bybel is die onveranderlike geïnspireerde Woord van God.”
Bybelse argeologie en beter kennis van die antieke tale wat Bybelskrywers in verskillende eras geskryf het, bied aan die Reformistiese teoloë ‘n rykheid van kennis waaruit geput word. Fundamentaliste neig om alles in die Bybel letterlik te verstaan en te vertolk.
Terwyl aan die een kant taamlik op die metaforiese en kontekstuele verstaan van dele van die Bybel gebou word, is daar ‘n weerstandigheid daarteen aan die ander kant. Daar is pas weer op die Facebook van die Steedshervormers ‘n aanval op metaforiese verstaan geloods.
Uiteraard is die mense wat tot die twee groepe behoort, nie homogeen in oortuiging nie. Nie alle stoere Doppers sal byvoorbeeld met ds. Slabbert le Cornu saamstem dat dit sonde is dat vroue in Suid-Afrika stemreg (in staatsverband) gekry het nie.
Beide groepe neig om om gemene delers te groepeer.
Maar dit is nie hoe die teenoorgestelde groep daarop reageer nie, en hieruit kom ‘n groot deel van die probleem. Die Reformatoriese groep wat steeds wil hervorm (na die eise van Gods Woord) word nie net daarvan verdink nie, maar beskuldig daarvan dat hulle menings met dié van die Nuwe Hervormers deel. Dié fundamentalistise groep word maklik daarvan verdink dat hulle almal die “creation science” aanhang – ‘n pseudo-wetenskap wat leer die aarde is 6 000 jaar oud, en wat ‘n groot deel van die boek oor die Trojaanse perd uitmaak.
Die vraag word dikwels gevra wat van die middelgrond geword het. Pleidooie is al gelewer dat die middelgrond gebou moet word.
Dit kan bloot maar bespiegel word hoekom die middelgrond nie bestaan nie, of onsigbaar is. Een manier van die saak bekyk is om te argumenteer dat die reformatoriese groep in werklikheid die middelgrond is, en dat die Nuwe Hervormers in werklikheid die ander pool is.
‘n Tweede moontlikheid is dat middelgronders voel hulle beset die slagveld tussen die twee groepe, en gaan in elk geval in die slag bly. Die teks van die Openbaringbrief aan die gemeente van Laodicea, waarin Jesus die gemeente aanspreek omdat hulle nie koud of warm is nie, maar lou, word gereeld teen die middelgronders ingespan – ‘n uiters ongeregverdigde aanval want hierdie mense fokus dalk juis op koninkrykwerk eerder as die verguising van mede-gelowiges.
Die Kommissie van die AKV het nou, sonder om na die steedsHervormers te verwys, ‘n brief geskryf wat deur baie vertolk is dat die streep in die sand getrek word. Daar is ook ander groepies, soos ‘n groepie wat die kerk gedagvaar het. Eerder as om groepe onder komberse te probeer plaas, lys die Kommissie se brief spesifieke optredes wat nie kerkordelik of Bybels is nie, en nie langer sonder optrede geduld sal word nie. Minstens van die mees prominente steedsHervormers het die brief as volledig op hulle gemik beskou, en reageer daarvolgens. Die brief geld egter vir alle lidmate en sny na alle kante toe.
Die optredes van lidmate en ampsdraers wat volgens die brief van die Kommissie die eenheid van die Kerk teenwerk en kerkskeuring bevorder, is egter duidelik onaanvaarbaar: Om prokureursbriewe aan die kerk te stuur en selfs te dagvaar, om mense met onwaarhede te beswadder, om mense te viktimiseer, om onkerkordelik op te tree, om ongegronde bewerings te versprei dat die kerk in sy teologiese opleiding bevrydingsteologie verkondig, dat die kerk beplan om Engels as voertaal in te voer, en dat die aanvaarding van die belydenis van Belhar beplan word.
Individue, selfs teologiese professore, wat reeds herhaaldelik bewerings teen hulle ontken en wat deur die toepaslike kerklike liggame opgeroep en onskuldig bevind is, ervaar dat dié bewerings gewoon voortgesit word en selfs in die vorm van DVD’s in gemeentes vertoon word.
Die brief lys voorts die stappe wat geneem is om besware ordelik te ondervang, waaronder ‘n buitengewone AKV wat teen groot koste gehou is. Die Kommissie sê dat daar ruimte vir verskillende standpunte en vir ’n teologiese verskeidenheid in die Kerk bestaan. Nou lyk dit of sommige beswaardes ‘n gaping in die Kerkorde wil benut (Ordinansie 4.2) om “andersoortige gemeentes” te vestig. Sulke gemeentes moet egter steeds kerkordelik goedgekeur word, en is volledig onderhewig aan al die vereistes van binding aan belydenis, kerkorde en kerklike besluite. Daar is ook ’n groot ironie opgesluit in só ‘n gryp na hierdie bepaling, want dit is in die negentigerjare van die vorige eeu in die Kerkorde opgeneem om voorsiening te maak vir veelrassige gemeentes binne die NHK.
In reaksie op die steedsHervormers se facebook word ondersteuners na ‘n baie belangrike vergadering in Junie opgeroep. Dit is tans onseker wat op die agenda van hierdie “formaliseringsvergadering” gaan dien. Wat gaan geformaliseer word? ’n Modaliteit – dit sou lynreg in stryd wees met die besluit van die BAKV. Aparte teologiese opleiding, of afsonderlike finansies en kerklike strukture – nogmaals lynreg in stryd met besluite van die Kerk. Of gaan ’n heel nuwe kerk daar beslag kry (kerkskeuring)? Onder die stellings wat gemaak word is dat ‘n “pouslike bul” uitgereik is om, strydig met die land se grondwet, mense se reg tot meningsuiting tot niet te maak. Hierdie stelling is natuurlik onwaar. Lidmate en ampsdraers mag hulle eie opinie hê (wat van die Kerk se amptelike opinie verskil), maar mag nie die kerklike orde en praktyk versteur nie.
Elkeen van die susterkerke beroep hulle daarop dat hulle ‘n teokrasie en nie ‘n demokrasie is nie. Die susterskerke roep vergaderings van die ampte bymekaar wat besluite neem o.g.v. die Woord en die belydenis, en nie vergaderings van demokraties verkose verteenwoordigers nie
Die brief word in sy logo word afgesluit met die woorde: “In die voetspore van Jesus.” Maar hieroor het iemand ook reeds beswaar gemaak.
Herman Toerien

7 Responses to Perspektief op stryd van Hervormers

  1. Herman

    April 29, 2012 at 2:16 pm

    Baie, baie dankie. Ek waardeer dit. Herman

  2. Johan

    April 29, 2012 at 2:06 pm

    Aan Herman Toerien
    ‘n Woord van besondere gelukwense oor jou besondere gebalanseerde inskatting van die “stryd van die Hervormers”. Ek kan my nie herinner dat ek nog so ‘n ewewigtige evaluasie van die Afrikaanse kerke in die algemeen en die NHK in die besonder gelees het. Hierdie artikel verdien om wyd in die Kerk gelees te word en behoort die Algemene Kommissie se perspektief te rig.
    Baie dankie vir eerlike en ingewyde verslaggewing!

  3. Herman

    April 27, 2012 at 8:57 am

    Baie dankie Herman v R. Openheid het ook elders op die Net deel vd gesprek geword, en daar word op die grondwetlike reg van spraakvryheid beroep. Suiwer staatsregtelik gesproke, elke reg in die Handves van Menseregte word op ‘n verskeidenheid maniere beperk. Julius Malema se verweer teen ‘n lastersaak deur Helen Zille is juis ‘n beroep op meningsvryheid. Sulke onbeperkte regte sou tot anargie lei. So ook sy verweer teen die skuldigbvinding aan haatspraak. Die Morelettapark-orrelistesaak het ook aangedoon ons howe neig om baie waarde te heg aan die huishoudelike reëls van instellings, al is dit skynbaar teenstrydig met die grondwet. In die VSA is daar juis ‘n storm omdat sowat 400 sake tussen Moslems reeds volgens die Sjaria besleg is, en beginsels skynbaar gesëervier het wat strydig was met die Amerikaanse grondwet (ek het nie die sake self bestudeer nie en gebruik onregstreekse bronne). Dit sou in ooreenstemming wees met die gewone gemenereg waar ‘n hof bloot kan beslis dat ‘n instelling korrek volgns sy eie grondwet opgetree het. Uiteraard sal daar grense wees. As ‘n kerk lidmate wat oortree wil begin ophang, gaan die staat beslis ingryp, soos wat van kerke verwag word om op te tree as die staat duidelik dwaal, soos voorheen gebeur het met die bonusobligasies.
    Ek self is ‘n natuurlike middelgronder, maar hier tree ek in my hoedanigheid as joernalis op. Nogmaals dankie vir ‘n waardevolle bydrae. Herman Toerien

  4. Herman van Rensburg

    April 27, 2012 at 8:36 am

    Die situasie vertoon duidelik fasette van die stryd tussen die Farisiers en Saduseers – blykbaar ook pogings .om die teenstanders stil te maak.
    Openheid is ‘persoonlikheidstrek wat hoofsaaklik net in ‘n geringe mate/laer grade op die skaal by persone met leierseienskappe voorkom (volgens bv die MBTI se I/J)
    Die middelgronders behoort meer dikwels nie aan ‘n steungroep nie en is dan stemme wat roep in die woestyn. My gebede gaan op vir hulle, want hulle loop van albei groepe se kant af deur. (Dalk moet meer aandag en ondersteuning (en BEGRIP) aan middelgronders gegee word!?)
    Balans
    NS Jammer, die onvolledige plasing was ‘n glips!

  5. Herman van Rensburg

    April 27, 2012 at 8:06 am

    Die situasie vertoon duidelik fasette van die stryd tussen die Farisiers en Saduseers – blykbaar ook pogings .om die teenstanders stil te maak.
    Openheid is ‘persoonlikheidstrek wat hoofsaaklik net in ‘n geringe mate by persone met leierseienskappe voorkom (volgens bv die M)

  6. Herman

    April 26, 2012 at 12:24 pm

    Freek, ek het ‘n ruk oorweeg of ek die kommentaar moet plaas, want blote stellings sonder substansie dra ook niks tot die gesprek deel nie. Onthou, ek as ilidmaat word ook deur die brief van die Kommissie gebind word, en as joernalis moes ek buite die subjektiewe wees.
    Sal jy dus asb substansie aan jy aantyging gee?
    Uiteraard is daar standpunte weerskante an die spektrum wat ek nie gestel het nie. Die artikel is opgestel in die eerste plek in reaksie op ‘n artikel wat in Die Beken verskyn het, en die navorsing was spsifiek daarop gerig. Ek kon dus bv deeglik antwoord op die leunagtige verdraaiings wat teen prof. Van Aarde gemaak word, maar y het dit al self by herhaling ontken.
    As ek die versoek vir bevestiging kry om jy antwoord te plaas, en dit lyk of dit ‘n artikel op eie bene kan wees, sal ek dit na die webmeester stuur om as sodanig geplaas te word. Anders plaas ek dit hier.
    Weens die senistiewe aard van die kwessie is dit natuurtlik nodig dat jy jou naam en van verskaf.
    Herman

  7. Freek

    April 26, 2012 at 12:08 pm

    Eensydigheid soos Herman se eenogigheid lewer geen bydra tot die gesprek