Subscribe by Email

Persepsie van landsvyande: Kan Gerwel na jaar sy Rubicon oorsteek?

Op 10 Oktober verlede jaar skryf prof. Jakes Gerwel soos volg oor die ANC in Rapport: “’n Vrot regering mag hy wees, maar ’n party wat in ’n vry en regverdige verkiesing deur meer as 60% van die kiesers ingestem is, kan nie die landsvyand wees nie.”

Amper ‘n jaar later – met daaglikse dosisse onaptytlike nuus wat Suid-Afrikaners inkry – is dit amper onvermydelik om te wonder of Gerwel steeds sy handtekening by daardie sin sal plaas.

‘n Party se lojaliteit aan die land word immers nie aan sy populariteit gemeet nie. Dan, immers, histories, sou Hitler en die Nazi-party wat aanvanklik demokraties aan bewind gekom het, se optrede nooit as dié van ‘n vyandige regering vir Duitse belange bekend kon staan nie. Dis nie moeilik om nog voorbeelde nader tuis te vind nie. Die politieke wetenskap ken immers die begrip van die diktatuur van die meerderheid, en uit ANC-geledere word graag aangehaal dat oud-pres. Nelson Mandela tydens sy verhoor verklaar het dat hy net so min ‘n swart oorheersing as ‘n wit oorheersing wil sien.

Om te argumenteer dat vyandigheid jeens ‘n land, en demokrasie in ‘n land, nie dieselfde ding is nie skep ‘n gevaarlike presedent, veral in lande waar die demokrasie al behoorlik behoort nes te geskop het. Anders verval ‘n land in die grys area soos lande soos Pakistan, Lesotho en talle ander waar staatsgrepe uitgevoer is om die een of ander probleem, soos endemiese korrupsie, eers uit te skud voor nuwe demokratiese verkiesings weer gehou word.

Regverdiging is ook maklik ter hand – die Wêreldbank, onder andere, beskryf korrupsie as die diefstal van ‘n land se toekoms. Ander nuanseer dit na ‘n stelling dat korrupsie die armes besteel. Dit, so word geargumenteer, beteken die regering pleeg in wese hoogverraad en moet reggeruk word.

Aan die hart van die saak staan die beginsel dat ‘n regerende party in algemene belang, en nie net in die belange van sy ondersteuners mag regeer nie. Terme soos nepotisme en baantjies vir boeties, en trouens, politieke aanstellings, maak nie deel van ‘n ware demokrasie se woordeskat uit nie. Ten tyde van Gerwel se artikel en daarna het die ANC sy kaderontplooiingsbeleid bevestig.

Sedertdien het meer en meer stemme – ook uit ANC-geledere – opgegaan dat korrupsie meer sigbaar met woorde en dade vasgevat moet word. Na raming kos korrupsie Suid-Afrika ‘n bedrag gelykstaande aan die jaarlikse totale Jan Takspoging. Elke item kos 20 % meer as wat dit sonder die korrupsietoevoeging sou kos, maar dit is kwalik die punt – herseelde paaie wat byna dadelik na die werk gedoen is verbrokkel en slaggate ontwikkel, maar nie voor die verfstrepe op die pad bykans dadelik verbleik en verdwyn het nie – om maar net een voorbeeld te noem van waar korrupsie en hoogverraad ineengeweef is.

Presies hoeveel van die uitsprake oor nie-rassigheid is lippediens? Vroeër vanjaar was dit presies twintig jaar gelede dat die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is en die land sedertdien nie amptelik nie meer wit, swart en bruin mense het nie. Ander wette soos die groepsgebiedewet het veel vroeër getuimel. Pas het die BMF aangedui dit wil nou wegstaan van ‘n nie-rassige sambreelorganisasie. Op haas elke vorm word vereis dat mense iets moet invul wat al dekades lank amptelik nie meer bestaan nie – hul ras. En dit word woes gebruik om iemand se kanse in die lewe te bepaal.

Blykbaar is net sommiges vyande van die land as hulle ras as norm gebruik.

Of moet lojaliteit aan die land gemeet word aan die basiese beginsels van ‘n grondwetlike demokrasie? Dan is dit baie onthutsend om stemme uit die hoogste regeringsgeledere te hoor dat die howe die rol van die opposisie inneem, en dat dit onaanvaarbaar is. Of die president self meen die howe moet ondergeskik aan die uitvoerende gesag gestel word – lynreg teen die trias politica-fondament van demokrasie.

In Suid-Afrika gaan dit egter verder: Die land se grondwet en die demokrasie wat dit gebaar het – gebreke en al – is die produk van ‘n onderhandelde skikking. Al was die onderhandelingspan, soos ‘n bekende rubriekskrywer dit gestel het, die reserwes van ‘n krokkerige span. Die grondwet is immers gestroop van bepalings tipies in heterogene lande soos Indië, Nieu-Seeland en die Europese Unie wat bykomende druk op polarisasie plaas. Belangrik egter in hierdie konteks; die aanhef van die grondwet beskryf die doel van die grondwet onder meer om die verdeeldheid van die verlede te heel. Presies hoe bevorder die sing van die liedjie, “Maak dood die Boere” dit? En nog meer insiggewend, watter versoeningsboodskap dra die ANC se heftige verdediging daarvan in die howe dit? Op 12 September lewer die gelykheidshof uitspraak, maar ongeag die uitspraak is dit noodsaaklik dat die land se leierskap die toon moet aangee – die regte toon.

‘n Juridiese verabsolutering, soos om verhoudings gesond te maak, is ‘n swak plaasvervanger vir die toepaslike vakdissiplines.

Daar is nie ‘n verwagting om Gerwel te druk om te erken die ANC is in werklikheid ‘n landsvyand nie. Dit sou immers nie die saak van versoening dien om dit te verwag van iemand vir wie die ANC deel van sy gene en wese is sy geykte denke sal afskud nie. Nie almal is ‘n Rhoda Kadalie of Breyten Breytenbach wat ‘n objektiewe afstand kan verwerf sonder om beginsels oorboord te gooi nie. Boonop, ‘n land waar van almal verwag word om dieselfde oor sake te dink, is immers geen demokrasie nie, en so ‘n land sal ook op elke gebied – insluitend die wetenskap – nooit na die sterre kan reik nie.

Slegs met die oorkom van gesonde verskille kan die reis maan toe moontlik gemak word – al val die harde woorde soms weer tydens die reis.

Om selektief te wees of af te skeep met die vertroeteling van die beginsels van demokrasie – die soms ongeskrewe waardes en konvensies, die morele ruggraat, beteken baie gou ‘n uitrafeling. En wat dit betref, sal die ANC deeglik weet hulle sit nou met die gevolg – letterlik – wat gebeur as die “chickens come home to roost.”

En al word verseg om diegene wat hiervoor pa moet staan landsvyande te noem, feit bly hulle het die land ‘n reuse onreg aangedoen.

Oor bietjie meer as ‘n maand is dit ‘n jaar sedert Gerwel sy gevleuelde woorde neergepen het. Kan en sal hy ook sy Rubicon kan oorsteek, en soos Rhoda ‘n groter persepsie van die feilbaarheidswerklikheid in die oë kan kyk.

En nee, niemand verwag hy moet sy intellektuele aanslag vir ‘n rissiepit-heupskietery verruil nie.

Herman Toerien