Subscribe by Email

Pepersproei gevaarlike wapen? Deur Blik Oor

‘n Paar jaar gelede loop die uwe in een van Bloemdroëfontein se gevaarlike strate. Iets vir Mev. Blik se onderneming in daai hoolstraat gaan soek.

En nee, Blik was nie te dig om te weet dis gevaarlik nie. Amper 50, was Blik nog lekker fiks en sou desnoods die rieme oor enige afstand van ‘n 100 meter tot ‘n halfmarathon kon hol om weg te kom, sou dit nodig wees. Soos die keer toe Blik oor ‘n straat bgestap het en deur ‘n spietkop voorgekeer is omdat Blik glo oor die rooi verkeerslig doer ver op die hoek sou oorgestap het. Toe was Blik so kwaad hy het vergeet om weg te hol en van pure kwaatgeit die saak gaan beveg.

So ‘n ent agter Blik stap twee karakters, en Blik se aandag is vol op hulle. Toe die aan skielik verbyhardloop, en so in die verbygaan Blik se selfoon gryp, was Blik reg en pluk dit terug.

Fout, groot fout. Dis ‘n horingou selfoon met ‘n vrot battery. Met dié bykans nuttelose stuk selfoon in Blik se een hand, kom die twee makkers van twee kante. En hulle is geoefen. Stuur Blik ‘n vuishou of skop in een se rigting, is hy weg, en is die ander op Blik.

Blik staan met sy rug teen ‘n muur, en probeer die makkers in die besige verkeer in gesmoker gekry,. Maar tref ‘n hou genoegsaam, swaai die verkeer gewoon uit. Niemand hou stil nie. Oorkant die straat staan sowat dertig mense by ‘n busstop, en kyk belangstellend hoe ‘n doodgewone Blik Oor in ‘n straatskollie ontpop.

Soos gemeld, hulle is geoefen. Die meeste van Blik se houe is skrams, en Blik se elmboë begin jeuk van die geskuur teen hul koppe.

Uiteindelik het genoeg houe getref, en die twee blaas die aftog. Blik kry kans om die selfoon in die broeksak wat half oopgeskeur is te sit, waai vir die “toeskouers” oorkant die straat wat sarkasties hande klap, en stap na die nabygeleë kliniek om die ergste bloed af te was en wonde skoon te was. Blik was die ene gaatjies, en die elmboë dwarsdeur geskuur. Die vuis wat die mokerwerk moes doen, ook maar deurgeskaaf.

Vra beleef om die kliniek se waskamers te gebruik, maar skaars begin skoonwas, word Blik uitgejaag om elders te gaan bloei.

Toe maar oorkant die straat Mev. Blik se goedjies aangeskaf, en toe na Avbob gestap waar Blik geweet het ‘n noodhulpkissie is.

Lang storie om te sê Blik was hierna bekeer tot die saamdra van pepersproei, by enige plek waar daar die geringste kans vir gevaar was.

Goeie pepersproei, minstens tien persent konsentraat. Blik begin self verkoop daarvan, met handleidings en goeie voorligting.

Dis doodveilig, want dit rig geen permanente skade aan nie.

En so mettertyd begin Blik die terugvoer kry van mense wat noue ontkomings gehad het, en wie se basse gered is deurdat hulle behoorlike, sterk pepersproei by hulle gehad het, en gebruik het.

‘n Paartjie wat ‘n swak pepersproei gehad het, sê hulle weet hulle moet eintlik iets doeltreffend kry, maar sal later…

Later, klop hulle die Blikke een aand op. Hulle is op Naval Hill aangeval. Die swak pepersproei het nie gewerk nie. Hulle is beide op antiretrovirale. Nou kom koop hulle iets wat werk.

En nou wil die polieste dit as gevaarlike wapen laat klassifiseer wat iemand skynbaar nie “in die openbaar” vir selfverdediging mag saamdra nie.

Blik is die blikskottel in, want ‘n paar jaar gelede kon ‘n mens by die polisie en die parlement kommentaar lewer, en Blik het. Destyds is Blik verseker iets wat mooi in die hand sou kon toevou, sal nie as “in die openbaar” beskou word nie.

Kan die polisie en die parlementslede dan nie lees nie? Om iets wat nié gevaarlik is nie, as gevaarlike wapen te klassifiseer?

En voor u dink om dit sommer gelate so te aanvaar. Dink maar aan u dogter wat soggens so alleen gaan draf. Of u vrou wat by die woongebied se winkelsentrum gaan inkopies doen. Of u seun wat met die fiets skool toe ry.

Of sommer jy self, tawwe Jan, wat dink jy gaan sommer die skollies op&^%der as hulle jou aanval. As jy so sukkel om die ouens wat ure lank hul plunderwerk oefen raakgeslaan te kry terwyl hulle jou “puncture,”, dink tog daaraan dat jy nié ‘n voorlegging gemaak het nie.