Subscribe by Email

Pentagon ontruim na aardbewing

Die Pentagon en Capitol Hill is ontruim na ‘n aardbewing van M5.9 die staat Virginia getref het. Dit het ook geboue in New York geskud.

Die aardbewing was maar sowat ‘n kilometer onder die oppervlak, hoewel dié syfer nog aansienlik aangepas kan word.

Nog geen berigte van skade of ongevalle is ontvang nie.

Dié aardbewing volg kort op ‘n skudding van M5.3 in die deelstaat Colorado. Hoewel Colorado heelwat foutlyne het en aardbewings taamlik gereeld voorkom, is dit selde sterker as 5. Omdat dié skuddings se episentrum gewoonlik vlak is, rig dit heelwat skade aan in die vorm van ruite wat oor groot gebiede gebreek word.

Op die oomblik kom heelwat sterk aardbewings aan die Westekant van die Ring van Vuur voor, veral rondom Japan en ‘n gebied noord van Nieu-Seeland se Noord-Eiland. Heelwat aardbewings kom ook in ‘n hoefystervorm om die ou vulkaaneiland, Krakatoa voor. In die gebied noord van die Indiese subkontinent kom ook heelwat betreklike sterk aardbewings nou voor.

Talle, gewoonlik ligter aardbewings kom aan die oostekant van die Ring van Vuur voor, veral Kalifornië en die skiereiland van Alaska. Heelwat ligte aardbewings kom ook in die bek van die Karibiese See voor.