Subscribe by Email

Pennington 4 dae al sonder vars lopende water

Die waterpyp aan die Kelso brug in Pennington. Foto: Seton Thompson Feveronline

Die hele gemeenskap in die KZN Suidkus dorpie Pennington, is al ongeveer 4 dae sonder ’n druppel water gelaat, weens die onvermoë van die Ugu Distriksmunisipaliteit om dringend genoeg aandag aan die saak te gee.

Sover vasgestel kon word, het die probleem begin ontstaan toe daar ontdek is dat ’n hoof toevoer waterpyp wat aan die Kelso brug vas is, herlê moet word omdat die Kelso brug tans herstel word vanweë skade in die 2008 oorstromings wat die gebied getref het.

Niemand het na bewering voorheen eers geweet van die waterpyp se bestaan nie en die brug was al in ’n gevorderde stadium van afbreek toe die pyp ontdek word en daar agtergekom is dat niemand ooit begroot het vir die herlê van die waterpyp nie.

Die Ugu Distriksmunisipaliteit, het volgens ingeligte bronne, eers ontken dat dit ’n werkende waterpyp is en by latere ondersoek was daar agtergekom dat dit ’n hoof watertoevoer na Pennington en ander gebiede is.

Die waterpyp is herlê en toe die water weer deur die verlegging gestuur word, het die res van die ou waterpyp op verskillende plekke gebars weens swak of geen instandhouding nie. Dit het veroorsaak dat die Pennington area nou al 4 dae sonder water sit.

Dit wil voorkom of die Ugu Distriksmunisipaliteit nie die saak as dringend genoeg beskou om die probleem opgelos te kry nie. ’n Oproep gister na hul kantore, het onbeantwoord gebly. ’n Oproep vandag na hulle kantore, is beantwoord, waarna Koerant.com verwys is na ’n ander nommer om met ’n meneer Thuli oor die saak te praat. Daardie oproep het ook onbeantwoord gebly.

Met die langnaweek op hande, wil dit voorkom of die gemeenskap van Pennington steeds geen water gaan hê nie, want as die Ugu Munisipaliteit enigsins die saak as dringend beskou het, sou hulle 24 uur per dag gewerk het aan die probleem om die water toevoer te herstel en nie slegs “werksure” daaraan gewerk het nie.

Die vraag wat kan gevra word, is dus, vir hoe lank kan ’n gemeenskap sonder vars lopende water klaarkom?

One Response to Pennington 4 dae al sonder vars lopende water

  1. Kuifie

    Augustus 7, 2010 at 6:44 pm