Subscribe by Email

Pastoor gaan voort met Koran se verbranding, ondanks waarskuwings

‘n Amerikaanse pastoor wat beplan om eksemplare van die Koran op die 11de September te verbrand, hou vol dat hy ondanks amptelike waarskuwings daarmee sal voortgaan.

Die pastoor, Terry Jones, se planne het reeds wye internasionale kritiek ontlok en ook waarskuwings dat dit Amerikaanse soldate in Afghanistan en Irak se lewens in gevaar sal stel. Jones, wat ‘n pastoor is in ‘n gemeente met 50 lidmate in Gainesville, Florida, word oorval deur versoeke van regerings, militêre en godsdienstige leiers wêreldwyd om van sy planne af te sien.

Jones het aan die CBS-korporasie gesê hy wil hê die gebeurtenis moet ‘n waarskuwing aan konserwatiewe Moslems stuur. Die beplande verbranding van die Koran, op die negende herdenking van die terreuraanvalle op 11 September 2001 in Amerika, het reeds tot betogings gelei in Indonesië, die land met die meeste Moslems.