Subscribe by Email

Partye se Kersboodskappe

Dr. Pieter Mulder: VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou
Nog ’n jaar is te vinnig verby.
’n Jaar waarin die pendulum heen en weer tussen hoop en moedeloosheid geswaai het. Suid-Afrika se probleme het dikwels gedurende die jaar net te groot en onoplosbaar gelyk.
Kersfees praat met ons almal in ons soeke na antwoorde op al hierdie probleme.
Sommige mense soek die oplossings in hulle eie krag. “Ons sal dit nie vat nie,” sê hulle – en dan praat hulle oorlog en geweld.
Ander soek oplossings in sy eie ekonomiese krag. Hulle kan maar die land opfoeter, met my geld en my beleggings is ek verskans en kan hulle my nie seer maak nie. Ander plaas al hulle vertroue in menslike leiers. Hulle wag op die groot Moses-leier wat moet kom en hulle glo hy/sy sal alles oornag met ’n towerformule reg maak.
Wanneer gaan ons die Bybelse les leer om nie op Prinse te vertrou nie? Ps. 146 stel dit so mooi as daar staan dat jy nie op ’n mens moet vertrou nie. Sy asem verlaat hom en sy planne is daarmee heen. Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig.
Twee duisend jaar gelede stuur God met een beweging, deur die geboorte van Christus, die wêreld in ’n totaal ander rigting. Wat ’n troos dat die toekoms nie deur ons op ons eie uitgekap hoef te word nie – maar in Sy hande is. Met een beweging kan Hy alles oornag nuut en anders maak – ook vir ons in Suid-Afrika. Wat ’n sterk en troostende boodskap.
Maar aan die einde van die jaar is dit ook ‘n tyd vir dankie sê. Die VF Plus is dankbaar teenoor sy lojale ondersteuners wat trots ons Christelike- en minderheidsregte benadering met selfbeskikking-oplossings ondersteun. Hulle verstaan waaroor dit werklik in Suid-Afrika gaan en het so hierdie jaar ’n sukses help maak.
Ons is ook dankbaar vir die belangrike rol wat die media die afgelope jaar gespeel het. Hulle was bereid om die VF Plus as opposisieparty te help om korrupsie en wanadministrasie onbevrees oop te vlek terwyl hulle ook ons inspraak tot op die hoogste politieke vlak ondersteun het. Sonder hierdie benadering sal Suid-Afrika geleidelik begin beweeg in die rigting van baie Afrika state. State wat hulleself demokraties noem maar waar geen koerant of politikus toegelaat word om van die regering te verskil of inspraak te kry nie. Dit is die risiko van die beoogde Inligtingswet.
Ek wens u ’n Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar toe. As instrumente in God se hande gaan ons by die VF Plus ons bes doen om die nuwe jaar op grondvlak, in die parlement en op kabinetsvlak ’n beter jaar vir almal te maak. Mag ons die krag en die wysheid daartoe ontvang.
Boodskap vir die Christusfees
“Die Christen-Demokratiese Party (CDP) wens alle Suid-Afrikaners ‘n geseënde Christusfees toe in die gees van “Ere aan God in die Hoogste, en vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae.”
So sê die leier van die CDP, ds. Theunis Botha.
“Die afgelope jaar was ‘n uitdagende jaar vir Christene in die land waar Christene en hul kerke gereeld uitgedaag is deur die blatante misbruik van godsdiens vir sekulêre politieke doeleindes.
“Baie Christene wat gewoond was daaraan om ‘n oop hand te hê vir diegene wat minder bevoorreg is, veral oor Kerstyd, is vanjaar self in die knyp.
“Ons bid dat alle Christen Suid-Afrikaners Kersfees sal vier in die ware gees van ‘n Christusfees, eerder as om meegesleur te word deur die sekulêre ‘Happy Holidays’ wat vir kommersiële uitbuiting bevorder word en so mense in groter geldelike verknorsings dompel.”