Subscribe by Email

Partye reageer op Midvaal

“Die Vryheidsfront Plus verwelkom die bekendmaking van die Openbare Beskermer se verslag die week met bevindings oor wanbestuur en ongerymdhede in die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit in Gauteng,” het mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW en provinsiale leier vir Gauteng, gesê.
Die VF Plus het reeds in April 2009 tydens ‘n mediakonferensie inligting oor korrupsie aan die media beskikbaar gestel en in November 2009 ‘n ondersoek daarna deur die Gautengse LUR vir plaaslike regering aangevra.
Volgens Mulder was die leier van die DA, me. Helen Zille, minstens sedert Januarie 2009 bewus van bewerings van ernstige korrupsie in Midvaal nadat mnr. Kobus Hofmann, toe ’n burgemeesterskomiteelid vir Midvaal, sy besorgdheid oor korrupsie in die munisipaliteit aan haar openbaar het en sy ten spyte daarvan telkens tydens die parlementêre verkiesingsveldtog van 2009 en die plaaslike regeringsverkiesing van 2011 na die skoon administrasie van die DA in Midvaal verwys het.
Helen Zille, James Selfe, Ryan Coetzee en ander senior DA-leiers het telkens ontken dat daar enige vorm van korrupsie in Midvaal is ten spyte van talle ooglopende bewyse. Die VF Plus het ingegryp nadat talle inwoners van Midvaal die party genader het om hulp omdat hulle deur die DA-raad benadeel is.
Zille het selfs in die Volksblad van 21 Augustus 2011 ontken dat sy Hofmann ken en James Selfe, toe die voorsitter van die DA se Federale Raad, het aan dieselfde media gesê dat hy nie bekommerd is oor die aantygings nie en dat dit herinner aan iets uit ‘n Monty Python fliek, nadat Hofmann ‘n klag van regsverydeling teen Zille en ander DA-leiers by die Meyerton polisie aanhangig gemaak het.
Die omstrede leier van die DA in Midvaal, mnr. Andre Odendaal, het na die bewerings van DA-korrupsie in die openbaar boonop gedurende Februarie 2010 ‘n lasteraksie teen mnr. Corrie Pypers, VF Plus-raadslid in Midvaal, mnr. Kobus Hofmann, fluitjieblaser en mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW vir Gauteng begin.
“Die DA en ANC is twee teenkante van dieselfde munt en die tyd sal leer dat die DA-beheerde Midvaal waarskynlik die mees korrupte munisipaliteit in Suid-Afrika is,” het Mulder gesê. Helen Zille, James Selfe, Ryan Coetzee en Martie Wenger is gevolglik medepligtig aan hierdie korrupsie omdat dit deurgaans onder hul aandag gebring is, hulle dit ontken het en versuim het om daarteen op te tree.
Die DA het die kieserspubliek herhaaldelik mislei en kan gevolglik geen geloofwaardige alternatief vir die ANC wees nie. Die DA eis telkens die bedanking van korrupte ANC-amptenare en daarom eis die VF Plus dat Helen Zille en elke DA-amptenaar wat by die korrupsie in Midvaal betrek word, bedank.
In sy rekasie sê die CDP: “Ons besef dat dit te veel gevra is dat die DA-leier, Helen Zille haar aan haar belofte sal hou om te bedank sou daar korrupsie in die Wes-Kaapse tenderproses gevind word, en korrupsiebevindings in Midvaal sou blyk uit ‘n verslag wat deur die Openbare Beskermer bekend gemaak gaan word, maar ons verwag dat sy as uitgesproke kampvegter teen korrupsie streng en spoedig sal optree.” So sê die leier van die Christen-Demokratiese Party, ds. Theunis Botha. Hy het gereageer op berigte dat die Openbare Beskermer op die punt staan om ‘n verdoemende verslag oor die DA-beheerde Midvaal bekend te maak.
“Dit is egter ‘n morele tameletjie dat die Midvaal-fluitjieblaser beweer hy het Zille lank reeds persoonlik ingelig, en sy daarna gesê het sy weet nie eens wie hy is nie. Inteendeel, hy was daarna na bewering die slagoffer van karaktermoord deur Zille se top luitenante.
“Ons kan ons nie blind hou vir bedrog, korrupsie en wanbestuur deur die ANC nie, en ons kan ook nie die blinde oog werp op die beweerde bedrog, korrupsie en wanbestuur deur die DA nie.
“Dit is ongelukkig nie net Midvaal waar dit lyk of die DA oë toegeknyp en geledere gesluit het nie. Die Justice and Equality Front maak soortgelyke bewerings teen die DA in Bithou (Plettenbergbaai) veral gemik op die DA-speaker, Johann Brummer. Onder die besware is dat twee senior advokate reeds bevind het dat hy nie geskik is om as raadslid te dien nie, en dat sy vriendin, nou sy sekretaresse, amptenare hiet en gebied.
“As die Openbare Beskermer of ander instansies ANC-mense by korrupsie impliseer, eis die DA spoedeisende optrede. Wanneer DA-ampsdraers geïmpliseer word is daar ‘n voeteslepery, soos nou ook blyk uit die ondersoek na die reis-eise van die DA-LP, dr. Manie van Dyk. Tot krediet van die media lyk dit of die media sake ongeag politieke oriëntasie oopvlek.

4 Responses to Partye reageer op Midvaal

  1. JEF

    Mei 18, 2013 at 4:58 pm

    Ons is bly om te sien julle manne (en vroue natuurlik) daar in Gauteng lees ook ons webtuiste. Sien verdere berigte wat mens nie in die hoofstroom media sal kry nie by http://www.justiceandequality.co.za. Groete uit die Kaap, die JEF span.

  2. Jaco Mulder

    November 9, 2011 at 10:58 am

    Geagte Andre

    Indien ‘n lid van die publiek ‘n openbaarverkose lid soos ek nader om hulp dan moet ek kyk waar ek kan help.

    Talle inwoners en belastingbetalers van Midvaal het ons oor ‘n tyd genader en ondermeer gekla dat hulle hul eiendom of geld verloor het deur die optrede van mnr Andre Odendaal, DA leier in Midvaal. Mnr Odendaal is ook die aangestelde prokureur van die Midvaalraad.

    Ons het eers die DA Midvaal hieroor genader, daarna het ek die leierskap in die provinsie hieroor gekonfronteer en in Januaie 2009 is Helen Zille en James Selfe ook hieroor genader. Hulle het ‘n oppervlakkige poging aangewend om ondersoek in te stel en daarna bevind dat daar niks fout was nie.

    Ons het die saak toe deur die Openbare Beskermer laat ondersoek waarna sy bevind het dat die aanstelling van Odendaal wel onbehoorlik was en dat hy wel onregverdig voordeel uit die ongesonde verhouding kon trek en dat hy homself wel op ‘n onwettige wyse verryk het ten koste van iemand anders.

    Die DA burgemeester van Midvaal en ander leiers wqas hiervan bewus en het versuim om dit aan te spreek. Dit het ‘n ondersoek deur die OB gekos en ‘n debakel soos gister om die waarheid te laat uitkom. Die DA reken nou dit was nie so erg nie.

    Indien daardie benadeelde se naam Andre Scheepers was, sou ons ook vir sy regte geveg het en nie die kop weggedraai het omdit dit die DA is nie. Talle mense is finsnsieël benadeel deur die optrede van Odendaal en ander, wat verdra en verdoesel is deur die DA

    Doe OB het slegs berig oor wat hulle ondersoek het. Die spesiale ondersoekeenheid van die SAPD se bevindings gaan binnekort ook bekend word. Zille het telkens in haar verkiesingsveldtog verwys na die skoonadministrasie in Midvaal, ek daag haar uit om dit wee rte doen en kiesers daarmee te mislei.

    Jy is reg as jy sê dat die ANC ‘n groter probleem is. Ons moet hulle beveg.

    Ek weet nie watter waardesisteem jy aanhang nie.

    ‘n Leier uit die Blacksash (Helen Zille) , ‘n voorsitter uit die ANC (Wilmot James), ‘n topleier uit die PAC van One settler one bullet faam (Patricia De Lille), ‘n parlementêre leier wat die ANC Freedom Charter haar eie gemaak het (Lindiwe Mazibuko) en ‘n DA koukus leier wat die hoofmeester van die vrymesselaars in Suid Afrika is (Watty Watson) , almal top leiers in die DA, ‘n sekulêre organisasie sonder enige ander waardes as dit wat in die SA grondwet vervat is.

    Indien dit jou hart laat warm klop vir die toekoms, steun dan die DA. Ons deel dan nie dieselfde waardes nie.

    Indien jy voel dat jy verder hieroor wil gesprek voer om ‘n meer te wete te kom van VF Plus waardes, Christenskap, die beskerming van minderheidsregte ens. , kontak my gerus.

    So nie aanvaar ek dat jy deel van die DA span is wat ek hier bo beskryf het. ‘n Benadering van “My viand se viand is my vriend” is geen rede opsigself om die DA et steun nie.

    Hou die spasie dop, die Midvaal sage het nog net begin. Jy maak melding van wiites wat mekaar aanvat ? Dit gaan hier slegs oor wanbestuur en terloops, indien jy onder die indruk was dat die DA ‘n sg “wit” party is, stel ek voor dat jy moeite doen om jouself op par te kry met die werklikheid.

    Dit gaan nie vir die VF Plus om wittes wat moet saamstaan teen swartes nie, maar oor die regte van Afrikaners, minderhede, Christenskap ens.

    Groete

    Jaco Mulder LPW
    VF Plus Leier Gauteng

  3. Herman

    November 8, 2011 at 7:16 pm

    Hallo André – Ek lei af jou beswaar handel oor die VF+ se deel. Ek sal jou beswaar reeds vanaand onder hul aandag bring.
    Ek weet nie of jy die Openbare Beskermer se verslag, wat sedertdien beskikbaar gestel is gelees het nie. Ek het daardeur gewerk, en ek stem met die DA se reaksie saam dat wanadministrasie, eerder as korrupsie gevind is, en dat die Openbare Beskermer die DA erkenning gee vir die regstellende optrede wat reeds getref is. Die DA het nie in sy verklaring verwys na sy mees onlangse standpunte soos dat die een klaer ‘n vendetta gevoer het, en dat mev. Zille aangedui het sy ken hom nie eens nie.
    Soos in die verlede bied ek aan om die DA se verklarings ook te plaas sou ek dit in Afrikaans ontvang. Onthou net, ek plaas slegs ‘n klein persentasie van enige party wie se verklarings ek in Afrikaans ontvang, juis om die webwerf nie in ‘n rigting te verpolitiseer nie. Die verklaring waarop jy reageer bevat ook die standpunte van twee partye (wat beide hul verklarings in Afrikaans uitgereik het). Ek sal dus ook onder die DA-verklarings selekteer.
    Ek is egter deur ‘n provinsiale woordvoerder van die DA die versekering gegee dat die DA om sekere redes sy nasionale verklarings slegs in Engels uitreik (ek het al self ‘n paar in Afrikaans gesien maar lank gelede), en dat van die media verwag word om dit self te vertaal. My bydraes vir hierdie webwerf geskied sonder vergoeding, en ek kan nie betalende werk agterweë bly vir ‘n party wat die vertaalopsie aan ander oorlaat nie. Ek stel dus voor dat jy die webmeester, Raymond, kontak en aanbied om self die DA-verklarings te vertaal en vir plasing aan hom beskikbaar te stel.
    Daar is toevallig ook ‘n paar nuusbulletin-verskaffers (een instansie wat radiostasies met ‘n gesamentlike miljoen luisteraars maar nie die mannekrag vir vertalings het nie), wat ook graag die vertalings gratis sal wil ontvang. – Herman

  4. Andre Scheepers

    November 8, 2011 at 6:05 pm

    En dan verkoop julle jul eie uit. Speel so in die anc se hand – die anc moet hulleself breek oor die “wittes” wat mekaar so aanvat. ‘n Baken in die “donker” Gauteng en julle breek die DA af. VF+ Vir ewig en altyd,- Pietrer ons ken mekaar baie lank – dit ius die laaste strooi – Tweedrag breek krag. Dit is julle keuse. Wow.

    MAAR dan is daar ‘n R8 miljoen KORRUPSIE aanklag teen VF+ lede wat met die munisipalitiet gedeel het. WOW. Wat ‘n siek spul ——- en steeds lag die anc hulle gatte af. WORD WAKKER