Subscribe by Email

Parlementêre ontwrigting

balekaDie Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, sê oorweging word gegee aan moontlike dissiplinêre stappe teen parlementslede wat gister se parlementêre verrigtinge ontwrig het.

Sy het die aankondiging gedoen nadat ‘n vraesessie van president Jacob Zuma verdaag moes word toe chaos uitgebreek het met die EFF-lede wat daarop aangedring het dat Zuma oor Nkandla praat en moet sê wanneer hy die geld vir die Nkandla-opgraderings gaan terugbetaal.

Mbete het gesê sy en haar adjunk, Lechesa Tsenoli, en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, gaan nou kyk hoe hulle binne die strukture kan verseker dat die parlement nie weer ontwrig word nie.

Die DA se hoofsweep, John Steenhuisen, sê die EFF het in die hande van die ANC gespeel.

Hy sê deur hulle optrede kon Zuma weereens nie verantwoordbaar gehou word oor instellings soos die Openbare Beskermer, die ontsnapping van Soedan se president Omar al-Bashir, die stadige ekonomiese groei en die werkloosheidskrisis nie.

Steenhuisen sê die kwessie oor die president se korrupsie by Nkandla is vir alle Suid-Afrikaners belangrik, maar gister se sessie was nie die tyd en die plek om dit te opper nie.