Subscribe by Email

Parallelle Kodesa en Belgiese regeringsvorm

Om die Belgiese onderhandelings vir regeringsvorming met die Kemptonparkse onderhandelinge in Suid-Afrika te vergelyk, is soos om appels en pere met mekaar te vergelyk.

Maar appels en pere is beide sagte vrugte, en daar is ook ‘n rits ooreenkomste.

Die Belgiese onderhandelings vir regeringsvorming het amper 500 dae gelede begin. Pas is die eerste groot struikelblok te midde van heelwat druk uit die weg geruim, en ook in België hou dié bousteen van ‘n volledige ooreenkoms wat nog moet kom, ingrypende grondwetlike implikasies in. Die senaat, in sy huidige vorm bly byvoorbeeld in die slag, en sal nou deur ‘n nuwe vervang word wat die bevolkingsamestelling van Vlaandere, Wallonië, die Duitssprekende gebied en die kopkrapper, die BHV – die tweetalige gebied van Brussel en omgewing – verreken.

Die oplossing, so lyk dit, neem die teenoorgestelde koers in met betrekking tot groepregte wat staatkundig neerslag vind as wat die Kemptonparkse onderhandelings ingeneem het.

Die samestelling van die senaat neem nou ook sekere werklikhede in ag soos dat daar meer Vlaminge as Franssprekendes in België is, en die groter soepelheid om Belge in die buiteland te laat stem, word as ‘n mate van kompensasie hiervoor gesien.

Hoewel hierdie deurbrake belangrik is, lê nog groot probleme voor. Interessant dat die Nederlandse pers op die oog af meer aandag skenk aan die probleme wat voorlê as die Vlaamse pers. Die uiteindelike magte van die Vlaamse en Walloonse deelstate moet nog uitgebeitel word, wat weer fiskale implikasies het. En veral die Franssprekendes wat erg deur hul Vlaamse landgenote gesubsidieer word sal wal gooi.

Hoewel hierdie regeringsvorming in België besonder lank duur en baie kompleks ontwikkel het, is lang onderhandelings na verkiesings in Wes-Europa nie ‘n vreemde verskynsel nie. Dit is die gevolg van die proporsionele kiesstelsels, wat baie selde ‘n uiteindelike algehele wenner oplewer. Gewoonlik wys die monarg / staatshoof ‘n persoon aan om as fasiliteerder vir regeringsvorming op te tree. In België het die koning op die leier van die Franstalige Sosialisteparty, Elio di Rupo besluit. Dié besluit is moontlik geneem omdat die Franstalige politiek in Wallonië minder verdeeld is as in Vlaandere, en Di Rupo se party as grootste enkele party uit die nasionale verkiesing getree het. Wat die pragmatiese betref, was dit waarskynlik ‘n minder gelukkige besluit, en het die polities verdeelde Vlaminge rondom Vlaams-nasionalistiese kwessies min of meer gekonsolideer. Omdat die Vlaminge die meerderheid uitmaak, het dit ‘n amper ingeboude dooiepunt opgelewer.

Intussen is die land deur ‘n administratiewe regering onder die leiding van die Vlaamse Christen-Demokraat, Yves Leterme, bestuur.

Dit was vanuit die begin duidelik dat hierdie regeringsvorming sou verskil van ‘n regeringsvorming in die buurland Nederland, wat selfs ‘n al groter taai toffie blyk te word.

Normaalweg lewer ‘n Wes-Europese regeringsvorming ‘n klein Kodesa op. Eers word onderhandel om te kyk watter partye bereid sal wees om deel van ‘n koalisieregering te word, en of dit dan ‘n volstrekte meerderheid sal oplewer. Wanneer hierdie omslagtige proses afgehandel word, word Kodesa gehou om beleid vir die koalisieregering te vorm, en die beleidsdokument staan ook nie agter wat omvang betref vir die Kemptonparkse onderhandelings nie. In die proses moet al die partye bereid wees om sekere van hul beleidsaspekte op die agtergrond te skuif.

In België het die opkoms van die Vlaams-nasionalistiese party van Bart de Wever onder meer veroorsaak dat die regeringsvorming nie die gewone koers sou inslaan nie. De Wever wil uiteindelik ‘n onafhanklike Vlaamse republiek sien, en hy het baie Vlaamse steun daarvoor.

Boonop, met die nouer politieke eenheid van die Europese Unie – in wese reeds iets iewers tussen ‘n federasie en konfederasie, maak die bestaan van die Belgiese regering al minder sin. Die druk wat Griekeland en ander Wes-Europese lande se ekonomieë nou ervaar, en die koste daarvan vir die Unie se lande wat nie sukkel nie, of minder sukkel, laat die entoesiasme vir Europese eenheid minstens vir die huidige afkoel. Terselfdertyd het die stemme vir ‘n onafhanklike Vlaandere stiller geword. Dit sit skynbaar ook nie om in meer entoesiasme vir die gedagte om met Nederland te verenig nie, en die fokus val terug na België as staatkundige entiteit.

Eers wanneer die oorblywende struikelblokke uit die weg geruim is – soos die staatkundige model waarmee België nou (voorlopig) die toekoms ingaan, kan die “Kodesa” vir regeringsvorming begin. Dié proses sal waarskynlik nie weer so lank neem nie, aangesien die onderhandelaars mekaar nou al deeglik leer ken het. Wanneer die tyd begin aanbreek, sal die onderlinge gesprekke waarskynlik reeds begin het, en wanneer die regeringsvorming aan die bod kom, sal die partye waarskynlik reeds ‘n goeie aanduiding hê van waarheen hulle wil gaan.

Tog – soos met die Kemptonparkse onderhandelings sal die deelnemende partye hul beleid aan hul onderhandelaars voer soos die betrokke beleidsaspekte aan die bod kom, en koppe bymekaar gesit word om dit as beleid vir die koalisieregering te formuleer. Agter die skerms sal die deelnemers se navorsers, soos met die Kemptonparkse onderhandelings, nagte deurwerk om die implikasies van sekere beleidsaanpassings te verreken, ander opsies na te vors, en verslae op te stel. Die internet maak dit veel – veel makliker as tydens Kemptonpark toe koeriers en fakse hoofsaaklik die dokumentasie van die partye se strukture moes inwin.

Daar is min ruimte vir onduidelikhede, aangesien so iets maklik later ‘n breekspul kan oplewer, gewoonlik gevolg deur ‘n vervroegde verkiesing, en weer lank ‘n administratiewe regering wat bloot die land moet stuur tot ‘n volgende koalisieregering ge-Kodesa is. ‘n Instaan-regering se magte is uiters beperk, en ‘n doodse stilte hang gewoonlik oor beleidsaspekte.

In Suid-Afrika blyk die gevolge betreklik ernstig te wees, soos die afloop van die Julius Malema-haatspraakverhoor bewys. Uit die uitsprake met die aankondiging van appèl is dit byvoorbeeld duidelik dat die jeugliga geen begrip van ‘n grondwetlike demokrasie, regeer in algemene belang en die skeiding van magte het nie sake wat skynbaar heel duidelik ge-Kodesa is. Die jeugliga slotsom is dus dat die howe “ondemokraties” minderhede teen die demokratiese meerderheid beskerm – iets wat ‘n volkeregtelike vanselfsprekendheid behoort te wees. Soortgelyke sentimente is ook reeds op ander regeringsvlakke, soos pres. Jacob Zuma self, uitgespreek.

‘n Wanbegrip oor die mees basiese begrippe van demokrasie is nie in Europa te vrese nie.

Hulle het hul eie sake om hul koppe oor te breek.
Herman Toerien