Subscribe by Email

Paleontoloë ontdek grootste dinosourus

BUENOS AIRES. – Paleontoloë in Argentinië se afgeleë Patagonië-streek is besig met fossielopgrawings van waarskynlik die grootste dinosourus wat nóg ontdek is.

Daar word geglo die reusagtige gedierte is ’n nuwe spesie Titanosourus, ’n soort langnekkige, langstert souropod-dinosourus wat 90 miljoen jaar gelede in die Kryt-tydperk geleef het.

Die onbekende plantvretende dinosourus het na raming meer geweeg as 14 volwasse Afrika-olifante, oftewel 100 ton, en was tot 40 m in lengte.

Dít is meters langer as die vorige rekordhouer vir die grootste dinosourus, die sogenaamde Argentinosourus, wat tot 36,6 m lank geword het.

’n Gefossileerde femur wat van die tamaai-dinosourus gevind is, is beduidend langer en dikker as ’n volwasse man.

Die vonds het egter nie daar gestop nie. Op dieselfde terrein, naby Trelew, is bene van minstens nog sewe individuele dinosourusse, waarvan sommiges jonges blyk te wees, gevind.

“Hierdie is die mees volledige ontdekking van fossiele van dié tipe dinosourusse nóg,” het José Luis Carballido, een van die paleontoloë wat die studie lei, gesê.

Die fossiele is in 2011 per toeval ontdek toe ’n plaaswerker in die Chubut-provinsie van Patagonië, sowat 1 300 km suid van Buenos Aires, op ’n fossielbeen van 2,4 m lank afgekom het.

Carballido het gesê die groep het reeds 10 werwelbene van die bors, 40 van die stert, nekbene en volledige beenfossiele gevind. “Tot dusver is wêreldwye kennis oor souropod-dinosourusse gegrond op fragment-ontdekkings,” het hy gesê.

“Die fonds is werklik merkwaardig. Sover het ons nog net 20% opgegrawe van wat ons reeds weet in die veld lê.”

Die onbekende nuwe spesie sal eers benaam word nadat die wetenskaplikes hul resultate volgende jaar gepubliseer het.paleontoloog