Subscribe by Email

Paashaas vaak bedruk

Herrie se Kerrie

Herrie se Kerrie

Met die afsterwe van die Herries se kat na Mev. Herrie se wit skippertje, Snoetie ook ‘n laaste rusplek in die tuin gekry het, is Pumba nou al barometer van, wel, die soort hondelewe wat ‘n gedierte in die Herries se huishouding te wagte kan wees.
As Pumba haar so op haar rug agteroor strek en haar rug behaaglik op die mat wriemel om van ‘n jukkerigheid ‘n groot lekkerte te maak, meen Herrie dis glad nie ‘n onaardige lewe nie. Pumba is ook nie beskroomd om aan te dui wanneer dit etenstyd is nie. Sy druk een poot in die leë bak, en skiet dan die bak soos ‘n yshokkieskyf oor die vloer.
Nadat die Nederlandse politici nie meer olie apartheid het om oor ‘n geraas te maak nie, het ‘n party vir diereregte begin stoom opbou.
Hoeveel dié party te make het met die regte wat diere begin geniet, weet Herrie nie, maar hulle het kort-kort iets om oor breed te glimlag.
So moet palings nou eers verdoof word voor hulle in die water waarin hulle vir die pot gereed gekry word geplaas word.
Beeste onderweg na die slagpale kry nou elkeen ‘n bykomende 15 sentimeter ruimte vir hul laaste rit.
Die dieregteaktiviste het wel minder simpatie van sekere godsdiensgroepe soos die Jode en Moslems gekry oor die wyse waarop hulle diere ingevolge godsdiensvoorskrifte slag. Herrie meen as die Partij voor Dierenregte beeldmteriaal van ‘n tradisionele slagting in Suid-Afrika kry, sal hulle ook weer op sanksies teen Suid-Afrika aandring.
Herrie – selfs ‘n amperse vegetariër behalwe vir biltong, droëwors, braaiwors, hamburgers, potjiekos en so ‘n paar ander geregte, sou self nooit met diere kon boer nie. Almal sou op hoë ouderdom as hulle begin swaarkry aan die slaap gemaak word. Omtrent soos oupa Nic wat die waaierstert-meerkatte by hul gate gaan aartappels en mieliepitte voer om hulle uit die koringland te hou. Maar Herrie sou te lekker koelbloedig lood ingelê het op rondloperhonde wat ‘n trop skape kom verskeur. Herrie voel ewe bloeddorstig oor die veediewe wat beeste se hakskeensenings met pangas afkap.
Nou lees Herrie dat die Nederlanders kopkrap oor ‘n ander spesie: Die paashaas. Hoewel Nederland se hase amper net so vinnig soos hul konyne voortplant, verminder die haasgetalle. Die probleem is dat hase, al is hulle vinniger as konyne (ja, die Nederlanders ken ook die uitdrukking, die hasepad kies), nie vinnig genoeg is om windhonde te ontglip wat spesiaal geteel word om hulle in te hardloop nie. Dié honde laat hulle ook nie flous van die esse wat die hase gooi nie – dié honde gebruik dit net om kortpad te vat om by die haas uit te kom. Heel anders as Herrie-hulle se kindertydse hond Piesang, wat heel gemaklik ‘n haas kon inhardloop. Mar net soos piesang wil hap, kierang die haas. Hy gooi sy stertjie vir links draai, maar vlieg dan regs weg. Dan is dit ‘n aardige rumoer met doplereffek en al, soos Piesang doer wyd moet gaan draai om weer die haas in die visier te kry. Herrie kan nie onthou dat Piesang ooit ‘n haas gevang gekry het nie.
Koeëls neig ook om vinniger as hase te wees.
En anders as konyne, graaf hase nie tonnels nie. Al hoe meer probeer die hase nou gevaar ontkom deur doodstil te lê, oortjies platgetrek, en soos molshope te lyk.
Teen die jagters en hul gewere en honde werk dit nie.
E n nou skryf Koos Dijksterhaas, ekskuus, Dijksterhuis, gaan hase “vaak bedrukt” deur die lewe. En nee, dié vaak beteken nie iets soos vermoeid wees nie. Nee, dit beteken “dikwels.”
Rede om bedruk te wees het hulle seker. Hoe meer die mense hulle bokveld toe stuur, hoe groter word die mandjies waarmee hulle Paaseiers by elke huishouding moet gaan aflewer. Herrie meen die jagters en hul honde se huise word dalk geboikot.