Subscribe by Email

Outismevoorkoms dalk meer as voorheen geglo

Jandré

Herskildering van Rosina Wachtmeister

‘n Onlangse studie in Suid-Korea het aan die lig gebring dat outisme dalk heelwat meer voorkom as wat voorheen geglo is.
Suid-Korea is gekies onder meer omdat die bevolking homogeen is, die voorkoms nog nie voorheen bepaal is nie, en weens die gesondheid- en onderwysstelsels in dié land.
Die ondersoek het aan die lig gebring sowat 2,6 % van die kinders tussen die ouderdomme van 7 – 12 jaar word deur outisme geraak. Die ondersoek is deur die Yale Child Study Centre en die George Washington Universiteit gedoen. Die studie is in die American Journal of Psyciatry gepubliseer.
Die navorsers meen nie daar is enige rede om te aanvaar dat die syfers vir Suid-Korea hoër is as elders in die wêreld nie.
Die hoër voorkoms kan moontlik deels verklaar word deur ‘n gewysigde ondersoekmetode, waar die fokus meer op die ondervraging van ouers as die studie van die kinders self geval het.
In baie van die gevalle is die voorkoms van outisme baie lig, en baie is in die hoofstroomonderrig waar hulle normale onderwys ondergaan. Hoewel Suid-Korea goeie wetgewing het ingevolge die benadering van inklusiewe onderrig om aan die spesiale onderrigbehoeftes van kinders met spesiale onderrigbehoeftes te voldoen, gebeur dit nie altyd in die praktyk daarvolgens nie.
Kundiges is dit nie almal eens of outisme werklik toeneem nie. Dieselfde norme is byvoorbeeld nie altyd gebruik nie, en sekere sindrome is later onder outisme ingesluit. Sommige kenners meen hier wyer “opvangs” verklaar sowat 17 persent van die sowat 700 % toename wat tot voor die jongste studie bemerk is.
Hoewel nie eenvormige norme gebruik is nie, was die voorkoms in 1991 sowat 6 per 10 000 geboortes. In 1998 was dit 12 per 100 000. In 2001was dit 42 per 10 000, en in 2009 was dit 100 per 10 000, of te wel een persent.
Nou is dit volgens hierdie studie 1 uit elke 38.
Gewoonlik word na klassieke gevalle van outisme verwys, en dan mense wat iewers in die spektrum van outismekenmerke voorkom, wat die omvang baie groter maak. – Herman Toerien, wie se outistiese seun, Jandré, onlangs 18 geword het, en eers baie laat gediagnoseer is weens die relatiewe skaars voorkoms tydens sy geboorte. Hy is ‘n knap kunstenaar. Die skildery hierby is ‘n herskildering van ‘n werk van Rosina Wachtmeister. Sy sterkpunt is egter kermamiekbeelde, veral van diere.