Subscribe by Email

Oupa se Stoep Gedagtes

uilOupa Uil Skryf:

Sit ek nou alweer hier op die Stoep so met myselwers in gesprekvoering. Vandag sit ek so en dink aan “dom” vrae wat defnitief ‘n siniese antwoord tot gevolg kan/behoort te hê. Toe spreek ek myself aan en besluit dat ek van hierdie vrae met julle moet deel net sodat jul, of bedag kan wees om dit self nie te vra nie, of, om voor bereid te wees om een te beantwoord. Nou ja hier gaan ons:

 

Dit is 03h00 in die na-nag en jy is lekker besig om die binnekante van jou ooglede en inspekteer. Skielik word jy uit die dieptes geruk met ‘n klank wat veraf bekend klink… jy wonder… ja dis jou loop-foon wat lui. Daai loop-foon wat jy bed toe neem net ingeval jou gesoek word en dan bitter raak as iemand jou daai tyd van die nag bel. Lekker deur die  mis druk jy die knoppie en antwoord met ‘n skor stem wat self nog nie wakker is nie: “Hallo…”

Dan kom die vraag… “Hallo het ek jou wakker gebel?” of “Hallo slaap jy?” Nou kyk dit is hier wat ek summier alles wat ek onder die hofie “Telefoon ettiket” geleer het vergeet.

Dit is dan wat ek so sit en dink aan wat ek op daardie oomblik eintlik moes geantwoord het.

Iets soos: “Nee glad nie jou “onheilige byvoeglike naamwoord”, ek lê op my bed en wag net vir jou oproep!” en dan volg jy dit sommer op met: “Wil jy nie oorkom dan braai ons ‘n snoek nie?”

 

Een wat my ‘n broertjie dood gee is as jy iemand groet met die woorde: “Hallo, dit gaan goed met my en met jou?” en die persoon se wiele kom af met ‘n antwoord soos: “Nee goed dankie en met jou?” Duidelik luister mense nie wat gesê word nie want dit is net uit gewoonte dat daar oor jou welstand uitvra word.

 

O ja, die een waaroor ek gereeld giggel is wanneer iemand by die dokter of tandarts inloop en dié vra vir jou: “Nou wat makeer jou?” Dit is wanneer ek baie maklik antwoord: “Nee hel ek weet nie, ek betaal jou mos om vir my te sê wat’s fout!”

 

Die kersie op die koek. Jy is besig met ‘n hamer of iets dergliks en dit gly en maak hard kennis met ‘n deel van jou anatomie. Jou oë traan en jy hyg na jou asem terwyl die bloed uit die wond drup en daar loop iemand by jou verby en vra: “Het jy seergekry?”

“Nee “nogeens ‘n onheilige byvoeglike naamwoord”, ek kreun maar elke dag hierdie tyd so en ek daarvan om sommer so bietjie te bloei, ek het te veel!”

 

Daar is nog heelwat van hierdie “dom” vrae en daar is defnitief baie pittige antwoorde wat mense sal opdis. Vir my is dit, terwyl ek so op die stoep sit en dink, duidelik dat mens self moet waak om sulke vrae te vra en verder om ‘n arsenaal van antwoorde gereed te hê as diesulke geleenthede hulself voordoen…

 

Ek sluit af met ‘n juweel wat my altoos laat glimlag… ‘n Persoon loop met ‘n baba, duidelik ‘n nuweling en iemand vra: “Is dit ‘n seuntjie of ‘n doktertjie?” Ek wonder hoe sal die persoon reageer as jy netjies met: “Nee dit is ‘n dit!” antwoord. Is daar dan ‘n ander keuse as seun of dogter…

Aag toemaar ek krap maar net waar dit nie jeuk nie.

One Response to Oupa se Stoep Gedagtes

  1. Dalena

    Maart 8, 2013 at 7:21 am

    My gat se deksel is as die kelnerin nie vir jou vra “hoe wil jy jou eiers hê?” nie, maar eerder vra “watse eiers wil jy hê?”

    Ek gaan eendag nog antwoord: “Volstruiseier, asseblief.”