Subscribe by Email

Ouers geskok oor dogter se doodsvonnis

Die bejaarde ouers van ’n Durbanse vrou, wat ter dood veroordeel is in China, het ’n jaar laas van hul dogter enige iets gehoor. Sy het Suid-Afrika in 2008 verlaat om in Brittanje te gaan werk.

Janice Linden is in November 2008 by die Guangzhou lughawe in China betrap met 3 kg se dwelms in haar besit. Haar geskokte ouers van Durban het dit eers vroeër die maand agtergekom toe hulle op televisie gesien het dat sy ter dood veroordeel is.

Volgens Chinese media is die 35 jarige Linden in Julie verlede jaar skuldig bevind aan dwelmsmokkelary en gevonnis. Op 8 April hierdie jaar, het ’n hoër hof in China haar vonnis bevestig na ’n appèlaansoek ter versagting. Die saak is nou na ’n hoër hof in Beijing verwys vir ’n finale beslissing.

’n Woordvoerder van die Departement van Internasionale Verhoudinge en samewerking, Mahlatsi Mminele, sê dat hulle in gesprek is met die Chinese regering vir die versagting van die vonnis.