Subscribe by Email

Oudtshoorn burgemeester van diefstal aangekla

Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, raadsheer Gordon April, het op Vrydag, 23 Desember vlugtig in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn op aanklag van diefstal wat spruit uit die onregmatige gebruik van munisipale boumateriaal en arbeid. Die klag teen April is deur die voorsitter van die Oudtshoornse AfriForum-tak, George Kersop aanhangig gemaak. Die saak is tot 3 Februarie uitgestel.

April is saam met ʼn munisipale werker, mnr. Raymond Wagenaar, aangekla. Die twee is nie gevra om te pleit nie.

Hooflanddros Jaco Lamprecht het die saak tot 3 Februarie uitgestel en die beskuldigdes gewaarsku om geen direkte of indirekte kontak met getuies te hê nie. Die getuies sluit ʼn geskorste direkteur van die munisipaliteit en ʼn senior bestuurder in.

Die staat het aangedui dat die dossier na die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging verwys gaan word. Mnr. Hardy Mills, van Mills en Lombard op Plettenbergbaai, het vir April verskyn. Wagenaar se regsverteenwoordiger was nie teenwoordig nie.

Die saak word deur inspekteur Frank Tolken van die polisie se direktoraat vir prioriteit-misdaadondersoeke op George ondersoek.