Subscribe by Email

Oudste vrou wat ooit geleef het sterf

Die 124-jarige Mariam Amash van Israel, maar van Arabiese herkoms, is gister oorlede. Volgens Amash se identiteitsdokument is sy in 1888 gebore, maar die dokument meld nie haar geboortedag nie. Amish self was nooit seker op watter datum sy gebore is nie, en haar familie het haar verjaarsdag altyd teen die einde van die jaar gevier.

Amash het tien kinders gehad, wat vir sowat 300 kleinkinders en agterkleinkinders gesorg het.

Voor Amash die rype ouderdom gehaal het, is Jeanne Calment van Frankryk as die oudste persoon beskou. Sy het 122 jaar oud geword.

Die 115-jarige Jiroemon Kimura van Japan is pas deur die Guinness Book of Records as die oudste persoon ter wêreld erken. Guinness vereis die beskikbaarheid van stawende dokumentasie waaroor baie van die wêreld se Metusalags nie beskik nie.

Kimura het dié titel by die 115-jarige Dina Manfredini van Italië oorgeneem wat vroeër vandeesmaand oorlede is. Manfredini het die titel net twee weke gehou na die 116-jarige Besse Cooper van die VSA oorlede is.

Besse het in Januarie vanjaar “amptelik” die oudste persoon ter wêreld geword, maar in Mei het die Guinness Book of Records vasgestel dat Maria Gomes Valentin, van Brasilië 48 dae ouer as die Amerikaner was. Maria is in Junie oorlede en Besse het haar “titel” herwin.

In September vanjaar is die Rus, Magomed Labazanov, in die Kaukasiese dorp Serebryakovka oorlede. Hy was vermoedelik 122 jaar oud. Die Kaukasiese streek is bekend vir die hoë ouderdomme wat mense behaal, maar hulle is hul geboortesertifikate kwyt tydens Stalin se gedwonge verskuiwings.

‘n Kubaanse vrou, Juana Bautista de la Candelaria Rodríguez, maak daarop aanspraak dat sy 127 jaar oud is. Ook haar identiteitsdokument dui dit as haar ouderdom aan, maar haar aanspraak word nietemin nie geglo nie omdat bewysbare dokumentasie nie bestaan nie, en sy steeds met bietjie hulp self kan loop.Mariam Amash ID