Subscribe by Email

Oudste “skool” gevind? Cro Magnon het kinders leer “skryf”

Meer besonderhede is pas bekend gemaak oor ontdekkings van wat moontlik die wêreld se oudste skool kon wees.
Dié “skool” was geleë in ‘n grotstelsel in Frankryk, La Grotte aux Cent Mammouths by Dordogne. Dié grotstelsel is agt kilometer lank, en die “skool” was in “Kamer” A1 gesetel.
Dat kinders vir die “kunswerke” in hierdie saal verantwoordelik was, is al ’n geruime tyd bekend, en ’n wetenskaplike artikel hieroor is reeds in 2006 gepubliseer. Meer besonderhede oor vier van die “leerlinge” van 13 000 jaar gelede is egter pas bekend gemaak: Soos steeds vandag, was die hardwerkenste kind ’n meisie van ongeveer vyf jaar oud.
Die Cro-Magnon het blykbaar hul kinders baie jonk reeds “skool” toe gestuur. Die jongste wie se werk geïdentifiseer is, was waarskynlik net drie jaar oud. Die oudste was sewe.
Die kunswerke bestaan uit strepe wat met die vingers in die sagte gesteente teen die dak van die grot getrek is. In Engels staan dit as “fluting” bekend. Deur die wydte van die strepe te meet kon taamlik lank gelede vasgestel word dat ’n groot deel hiervan die werk van kinders moes wees.
‘n Groep wetenskaplikes van die Universiteite van Cambridge en Walden (VSA) het tegnieke ontwikkel om meer te wete te kom oor die ouderdomme en geslagte van die “skoliere,” en hul bevindings is pas deur die BBC bekend gemaak.
Om op sommige plekke te kon bykom, moes die kinders egter waarskynlik op die skouers van volwassenes gesit het. Van die lyne is ook te lank om vanuit een posisie getrek te kon gewees het, en daaruit kon afgelei word dat die volwassene moes beweeg. Deur omvattende studies kon die wetenskaplikes ook vasstel watter bewegings die volwassene moes maak om sekere van die patrone, soos zig-zag en sirkels te kon maak.
Op sommige plekke kon duidelik afgelei word dat die kind se hand deur ‘n volwassene vasgehou moes wees.
Die wetenskaplikes kon die “skryfwerk” van hierdie kinders nog nie “ontsyfer” nie, maar sommige wetenskaplikes maan dat nie sonder meer afgelei moet word dat dit betekenisloos was nie.
Herman Toerien

Die foto is geneem uit die International Newsletter of Rock Art van 18 Maart 2006