Subscribe by Email

Ou en nuwe rugby en hul uitdrukkings

Die Springbokke wat nou weer ‘n slag gewen het (ja, sit ‘n paar Oos-Vrystaters voorlangs in en kyk wat gebeur), het Herrie laat dink aan die moderne, dikwels niksseggende terminologie wat in rugby gebruik word – so anders as die dae toe Spiekeries ‘n ding darem so in die kol kon uitdruk. Gelukkig, soos hulle sê, dit was Syd Nomis wat daai bal onderskep het en nie Piston van Wyk nie.

Ja, ‘n dikwels simpel uitdrukking kan in ‘n sportsoort posvat, en kort voor lank is radio- en TV-onderhoude deurspek daarvan. “Aan die einde van die dag…”

Of met krieket dat ‘n mens al oorpluisies wil dra: “You know” – tot twee keer in dieselfde sin.

Herrie wonder dikwels of rugby so verander het dat heeltemal nuwe terme geskep moes word. Neem nou maar: In die ou dae het ‘n speler skitterend deur ‘n gaping geglip. Nou “neem” hy die halwe gaping. In die ou dae is die opponente met aftrappe, swenke en dartellopies geklop. Nou het die aanvaller volgens sy span se aanvalslyne die verdedigers se verdegingslyne geklop. In die ou dae het die stut sy pad oor die teenstanders se doellyn gestoomroller, dikwels in ‘n stofwolk; nou het ‘n span weens volgehoue druk die opponente se doellyn oorgesteek, en word die drie toegeken na die TV-skeidsregter die spulletjie ‘n kwartier lank bestudeer het. Met g’n stof wat eers moes gana lê nie.

In die ou dae het die spanne wat opwindende rugby opgedis het, aanvalle met vingerpuntbewegings geloods. Nou hardloop die baldraer aan die naaste opponent vas, en plaas die bal sodat sy spanmaats die opponente kan insuig om die verdegingspatroon uit te dun.

Iets wat terminologies min of meer dieselfde gebly het is om die bal vir iemand in ‘n beter posisie as jy aan te gee. Sommige spelers, soos Kennedy Tsimba en vroeër Meyer Bosman, het ‘n aanvoeling gehad om die man in spasie in besit te stel – gewoonlik wanneer daai ou op vol spoed is. Anders het die balverspreider net sy ore oop gehou – die ou wat spasie gesien het het ‘n keel opgesit: “Paas daai bôl vir my, paas daai bôl vir my!” Skynbaar het hy gemeen dit is protokol dat die opponente hulle dan doof hou, en hom nie gaan merk nie. Nou moet die speler in besit gestel word wanneer hy “ruimte” het – wat gewoonlik beteken die bal en verdediger kom gelyk by die aanvallende speler “met ruimte” aan, en sy pale word gelig. Die taktiek is blykbaar om te kyk of die skeidsregter nie oortuig kan word dat dit ‘n hoogvat of laatvat was nie.

In die ou dae het die vleuel met die bal soos ‘n vlakhaas langs die kantlyn af die rieme neergelê en die opponent met ‘n binne- of buiteswenk geklop, en die kruisverdediging in ‘n naelloop vir die hoekvlag probeer weghol.

Nou word ‘n Suid-Afrikaanse vleuel baie selde “in besit gestel,” en is die vleuel se grootste werk blykbaar om die Australasiese spanne se vleuels wat mildelik balle gevoer word, te keer. Nadat die binne-agterspelers die SA-spanne se verdediging behoorlik getoets het – nie meer beproef het nie. Of hy moet as tweede heelagter dien as hy teen ‘n ander Suid-Afrikaanse span speel, want iewers het die konsep posgevat dat druk op die opponente geplaas word deur die balle in die hoeke in te sool. Balle wat al te dikwels in pasellabesit omskep word en onder die eie doelpale afgerond word.

Daar is natuurlik nog hier en daar ‘n vleuel wat soos oorlede Pierre Spies die hoekskop uit die lug kon pluk en gaan druk. Iemand soos Bjorn Basson as hy ‘n losskakel het wat op ‘n tiekie kan skop. Maar nou is tiekies so skaars soos hoendertande – ons speler kry nou selde die veld buite die speelveld raakgeskop – of anders gestel, kry nie hul bôlle uitskop nie. Opponente kies nou al dorings op die aanval om met hierdie pasellabesit wat deur mamparraskoppe by hulle aanland, amok te gaan maak.

In die ou dae is ‘n speler wie se verdediging hom in die steek gelaat het as ‘n paloeka of prima donna afgemaak. Deesdae het hy nie volgens die span se ingeoefende verdedigingslyne gespeel nie. Of hy het nie soos hy moes, op die verdediging “opgeskiet” nie.

In die ou dae het die pynpolisie soos kameelperde op die veld gepik as ‘n speler ‘n skeet opdoen. Nou daag die mediese span op. Hulle gebruik darem nog af en toe daai doepas aan wat ‘n speler wat lyk of hy eers ‘n week later weer gaan bykom, of een wat krul van die pyn, sommer in ‘n japtrap weer vol woema te kry.

Ai, en wat was nou lekkerder vir ‘n speler wat sy gô uitgespeel het, om lemoentyd aan ‘n skyfie lemoen te kan knaag? Nou, ter wille van TV-advertensies, is daar genoeg tyd om gou ‘n vakansie by die see in te pas.

In die ou dae het die vlagmanne gewys waar die bal of speler met die bal oor die kantlyn is. Nou is die assistent-skeidsregters meer by die spel betrokke, en dikwels in net sulke kontroversie as die skeidsregters betrokke, terwyl hulle nog groter moeite het om die regte lynstaanmerkies te kry as die lynregters van ouds.

In die ou dae was daar skelm skeidsregters, en hier en daar ‘n blinde lynregter. Nou is daar skeidsregters wat ‘n bietjie heropleiding nodig het.

Deesdae, volgens die rugbybase self, is baie skeidsregters erg onfiks wat gereeld daartoe lei dat vorentoe-aangeë nie opgetel word nie. Om te dink, as dit ‘n klompie jare gelede ook die geval was, het die Cheetahs ‘n slag meer al die Curriebeker huis toe gebring.

Nou moet Herrie bieg – daar is darem ook iets te sê vir moderne rugby, dikwels niksseggende “jargon” ten spyt. In die ou dae was dit nie snaaks dat wedstryde, selfs Intervastity’s, met 0 elk gelykop eindig nie. Deesdae is ‘n klein telling aan die kant van die wenspan ‘n rariteit, en selfs verloorspanne stapel gereeld die punte op.

Maar Herrie verlang darem nog na die dae toe rugby met die hart gespeel is – individue nog toegelaat is om hul kwiksilwer-talent ten toon te stel. Soos die manne sê, die beste “paas” wat naas ooit gegee het was daai slag toe Pierre Edwards en Peter Whipp in een beweging afgeskryf is. Toe het Gysie Pienaar en Danie Gerber uiteindelik die Groen en Goud verwerf. Manne wat gespeel het volgens die rugbyspreekwoord: “Going, Going Gone!”

Herman Toerien