Subscribe by Email

Otto von Habsburg sterf

Otto von Habsburg, die oudste seun van die laaste keiser van Oostenryk en koning van Hongarye het in Duitsland op die ouderdom van 98 gesterf.

Otto het die Christen-Sosiale Unie (‘n vaste Beierse vennoot van die regerende CDU in Duitsland) in die Europese Parlement verteenwoordig, en was lank ere-president van die Internasionale Pan-Europese Unie.

Hy is op 20 November 1912 as oudste seun van aartshertog Karl en aartshertogin Zita gebore. Na die Habsburgse dinastie in 1919 omvergewerp is, moes die gesin eers na Switserland en later Madeira uitwyk. Karl, wat intussen keiser geword het, het op 1 April 1922 gesterf.

Die aanspraakmaker op die kroon het in Leuven, België gestudeer, maar is weens sy teenkanting teen die Nazi-inname van Oostenryk deur Hitler ter dood veroordeel. Otto en sy ma het toe na die VSA gevlug waar hy tot na die oorlog gewoon het. Na die oorlog het hy ‘n tyd lank in Spanje en Frankryk gewoon.

In 1961 het Otto formeel alle aansprake op die Oostenrykse troon laat vaar, en sy lojaliteit teenoor die republiek uitgespreek. Hiermee het hy formeel aan die vereistes voldoen om na Oostenryk terug te keer, maar sy terugkeer het tot die sogenaamde Oostenrykse krisis gelei.

Otto het later in ‘n onderhoud sy misnoeë met sy afsegging van aanspraak verklaar, veral die onderneming om hom van politiek te weerhou. Hy het verklaar dat as die politiek eenmaal deur ‘n mens se are vloei, vloei dit altyd daardeur.

In Duitsland was hy dus besonder betrokke by die politiek, en was ‘n vroeë uitgesproke voorstander van Europese eenheid. Na die val van die Berlynse muur – iets waarby Otto ook aktief betrokke was met onder andere die sogenaamde Pan-Europese piekniek toe 600 Oos-Duitsers via die Oostenryks-Hongaarse grens na vryheid probeer vlug het – het hy hom vir die toetrede tot die EU van verskeie voormalige Oosbloklande beywer. (Deur sy aanspraak op die Hongaarse troon was hy tegnies ‘n aanspraakmaker op die “trone” van Tsjeggië, Kroasië, Slowenië, Slowakye en Bosnië-Herzegovenië.

Hoofbron: Berliner Umschau

Herman Toerien