Subscribe by Email

Opwindende krieket vandag

Die tweede toets tussen Suid-Afrika en Sri Lanka, wat op ‘n reuse aapstert vir die Proteas uitgeloop het, is ‘n dag vroeër as geskeduleer iets van die verlede, maar Suid-Afrikaners gaan vandag steeds kookwater krieket kan volg.

Die aandag op die plaaslike meerdagreeks is skielik nog meer onder die vergrootglas, nie net omdat die reeks na vandag se spel dalk ‘n nuwe voorloper kan hê nie, maar omdat die keurders hier sal bestekopname doen om te kyk wie steek hande op.

Kommentators was dit gister nog voor die Proteas die wit vlag gehys eens dat die keurder met die oog op die laaste toets diep sal moet delf.

‘n Paar plaaslike spelers maak die jongste tyd die stem dik, en ‘n paar het die naweek weer kookwater gevaar wat dit moeilik vir die keurders sal maak om die blinde oog op hulle te werp.

Die sterkolwer in die meerdagreeks is nou ongetwyfeld Colin Ingram van die Krygers. Nie net ryg die jongeling die honderdtalle in nie, maar hy moet dit gereeld onder druk doen. Sy span stuur hom eers op nommer 5 in, met die gevolg dat hy die krane moet oopdraai om sy 100-talle te kry voor die laaste kolfmaat die aftog blaas. Gister is Ingram egter op 92 nie uit nie gestrand gelaat, wat beteken dat die Kobras vandag nie ‘n onmoontlike taak sal hê om die nodige lopies vir ‘n oorwinning en ‘n aanspraak bo-aan die liga se puntelys te maak nie.

Nie een ander speler in dié wedstryd het nou besonder hande opgesteek om in aanmerking te kom om ‘n verwelkte Protea te vervang nie.

Die boonste plek behoort op die oomblik aan die Ridders, wat met ‘n wedstryd meer nog ‘n elf punte voorsprong geniet. Die kanse dat die Ridders vandag die Dolfyne sal kan slag lyk nie te belowend nie.

In die wedstryd tussen die Titane en die Leeus, kan die Leeus vandag hard brul. Alviro Peterson het in die eerste beurt met sy 115 lopies sy kanse om in die Protespan heringesluit te word, geen skade berokken nie. Faf du Plessis het sy goeie eerstebeurtvertoning in die tweede beurt met ‘n nulletjie geknou.

Vaughn van Jaarsveld bly vanjaar Meneer Bestendig, iets wat kan maak dat die keurders dalk in die versoeking kan raak om na sy kant te loer.

Die Blikoorridders se kolwers is propvol talent, maar die span betaal gaandeweg die prys vir wisselvallige vertonings. Die mees bestendige is nou Morné van Wyk, wat boonop die handskoene dra. Of die keurders sommer weer in sy rigting gaan kyk is ‘n ander vraag.

Ryan McClaren is na sy besering die bestendigheid self, sonder om werklik briljant te wees. Sou Jacques Kallis se plek na sy eina-vertoning in die afgelope toets in die gedrang wees, kon McClaren as veelsydige speler dalk die keurders se aandag getrek het. Niemand met bietjie ervaring van die keurders se keurbeleid sal egter nou verwag dat Kallis se kop gaan rol.

Hierteenoor lyk dit of Mark Boucher se dae getel is, en het die keurders verskeie opsies. Heino Kühn se vertoning is moontlik wisselvallig, maar die Leeus se Tsolikile brul nou ook weer hard.

Die keurders kan egter ‘n ander opsie volg – vir AB de Villiers agter die paaltjies gaan inspan, en so vir Jacques Rudolf in die laer orde plek maak, en vir Peterson na die voorpunt bring. Prince behoort dan sy plek aan sy bedryfsreg-spanmaat, Ingram, af te staan.

Die wete behoort nietemin nou tot die keurders te begin deurdring dat die senior spelers nie vir altyd sal hou nie. Jong spelers behoort nou vir toetskrieket gereed gemaak te word – wat insluit dat spelers op vorm gekies word, en met hul bedryfsregspanne geroteer word wanneer die vorm begin lol, om ander vormspelers kans te gee. Die senior Proteas sal waarskynlik moeilik sluk aan ‘n proses om hulle die geleentheid te bied om in laer vlakke selfvertroue en vorm te herwin.

Te veel keer in die verlede is spelers eers na hul topvorm verwelk het vir Proteadiens opgeroep. Die land kan dit nie bekostig nie.

Herman Toerien