Subscribe by Email

Oproep tot opstand teen regering oor geweld – VF+

Fan Liebenberg

Die Vryheidsfront Plus sê die gevestigde geweldskultuur in Suid-Afrika is verlammend vir die moraal van die land en plaas die land op die weg na verdoemenis.

Die party se Provinsiale Wetgewerslid in Gauteng en lid van die provinsiale portefeuljekomitee vir Gemeenskapsveiligheid, Jako Mulder, het skerp gereageer op die moord op die 80-jarige Fan Liebenberg van Monument in Krugersdorp.

Liebenberg is gister in haar huis aangetref waar haar kop blykbaar met ’n tuinskêr verbrysel is. Sy het sedert 1988 alleen in haar huis in Nicolas Smitstraat in Monument gewoon.

Mulder, wat in dieselfde munisipale wyk woon, sê selfs ‘n aktiewe buurtwagstelsel en sektorpolisiëring in die omgewing kon nie die tragedie voorkom nie. Hy sê die aard en aantal moorde die afgelope weke, dui op ‘n totale verval van die samelewing waar ‘n kultuur van geweld die norm geword het.

Mulder sê die burgery van Suid-Afrika sal in opstand moet kom teen die geweldskultuur en die regering, en by implikasie die president, tot verantwoording moet roep.